ToekomsVenster: Dis chaos

Foto: Alexei Scutari/Unsplash

Dis baie deurmekaar in Suid-Afrika, om die waarheid te sê, dis chaoties. Op die aand TV-nuus is dit die een opstand en betoging  op die ander, vullis wat die hele wêreld vol gestrooi is, vragmotors wat brand, winkels wat geplunder word en eiendom wat beskadig word.

Dis dreunsang en dreigemente. Dis lesinglokale en dienste wat ontwrig word. Dis stakings, ontvoerings, verhore waar mense doodgewoon nie opdaag nie. Dis moord en doodslag en niemand word ontsien nie. Dis beleggings wat opdroog en sakevertroue wat aan’t skerwe lê.

Dis korrupte amptenare en leiers  wat broodnodige armoede verligting moet aanspreek wat rykdom steel, siekes wat in hospitaalgange op die vloer lê, ander gaan dood weens ʼn gebrek aan mediese sorg.

Dis geblikte leeus en renoster slagting. Dis werkloosheid en armoede. Dis onbeholpenheid, lang rye, hulpbronne wat opraak en vermorsing.

Ons maak ons vrouens dood, skiet ons kinders, verwaarloos mekaar. Ons sosialiseer en hou partytjies, beklae ons lot by die braaivleisvure, stook onrus en onttrek in ʼn ghetto bestaan. Ons bou die mure al hoër, belê in die buiteland, probeer ons verskans teen die onrus maar dis net ʼn kwessie van tyd.

Dis ontstellend, gebroke, chaoties. Dis Suid-Afrika.

In die begin was die aarde woes en leeg. Toe spreek God: “Laat daar lig wees en daar was lig”. En toe begin Hy om orde te bring te midde van die chaos. Uiteindelik stel Hy die mens aan om die nou geordende wêreld te bestuur en te laat vlot. Dit het nooit gebeur nie.

Toe die chaos weer op sy hoogste is stuur Hy sy Seun en Sy Gees. Die opdrag word herhaal. Bring en handhaaf die orde. Steeds bly dit uit.

Wie moet die skuld kry? God is altyd bo verdenking. Ons maak droog. Ons steel en besteel mekaar, beswadder en beledig. Ons weerhou wat ons moet deel en rantsoeneer die liefde. Ons soek God waar Hy nie is nie. Dis tyd dat daar weer orde kom.

Dis tyd vir herlewing. Dis tyd dat die kerk na vore tree en sy roeping vervul. Dis tyd dat Christene opdaag waar daar chaos is en orde bring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hennie ·

Vraag, is God regtig bo verdenking? Se die kerk se die sogenaamde christene.Gaan terug oordink die saak weer miskien sal die mens sien dat hy homself so hoog ag en arogant geword het dat hy dink dat hy veranderinge aan God se woord kan bring. GOD het gese by die grondlegging van die aarde het Hy elke mens,dier, boom, plant,sandkorrel en water druppel geskape en weet presies elke sekonde wat met hul sal gebeur, Dus wie dink die mens is hy/sy om net te dink dat hy/sy verandwoordelik is vir sy dade. God het alles beplan tot op die letter.God sal die herlewing bring.Die kerk!!!!!!!!! is korup .Dus tyd dat God opdaag waar daar chaos is en orde bring. Op Sy tyd. Amen

Andre ·

Die kerk is stil, die kerk moet die rigting gewer wees die terregwyser maar ons kerke is stil. Want o moet mos net nie aanstoot gee nie net nie op tone trap nie. Die leiers in die kerke moet opstaan en begin praat en dan sal mense weer na die kerk terugkeur en ons nie meer die tendens sien van ek is Christen maar gaan nie kerk toe nie. Dit voel vir my dit is die “profete” van die vroegste tye af se plig om die regering van die dag tereg tewys.So hoekom nie nou nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.