ToekomsVenster: Dis die Here se gemeente


ou-boeke-tradisie

Argieffoto.

Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. – Handelinge 20:28

Die kerk. Almal het ’n mening daaroor. Heel dikwels kry ek ook die indruk dat almal dink dat hulle weet waarvan hulle praat. Ongelukkig praat ons oor die kerk vanuit ons eie verwysingsraamwerk. Ons almal het ervarings van die kerk en maak dit dan die norm vir die manier waarop ons daaroor dink. As ons negatiewe ervarings van die kerk gehad het, is ons soms negatief. As ons positiewe ervarings gehad het, is ons soms positief. Ons het brille op as ons oor die kerk nadink.

Ons veronderstel sekere dinge oor die kerk en die gemeente. Sommige van ons veronderstel dat alle mense in die gemeente die Bybel ken. Ons veronderstel dat Christene sal saamstem oor die interpretasie van die Bybel. Ons veronderstel dat almal eenheid soek. Ons veronderstel dat almal bereid is om hulle gawes met mekaar te deel. Ons veronderstel dat almal gretig is om te groei. Ons veronderstel dat almal Christene is.

Miskien vra jy onmiddellik: woon jy in ’n gekkeparadys? Dit klink of jy nog nooit in ’n gemeente was nie! Ons weet mos dat jou veronderstellings heeltemal belaglik en onrealisties is.

Jy is reg. Miskien is ek onrealisties. Miskien is my verwagtinge te hoog. Moet ons egter ophou om oor ’n heel en gesonde gemeente te droom?

R.B. Kuiper het ’n boek geskryf met die titel: ‘The glorious body of Christ.’ Wat mooi titel! Wanneer Paulus net voor sy vertrek met die ouderlinge in Efese praat, is sy gesprek vol emosie. In hierdie gesprek met sy baie opdragte, aanmoediging en troos, beskryf hy in een sin een van die kosbaarste waarhede oor die kerk. Die kerk is nie ons kerk nie. Die gemeente is nie ons gemeente nie. Dit maak nie saak hoe lank my ouers of voorouers aan die gemeente verbind is nie. Dit maak nie saak of jy ’n stigterlid van of ’n pilaar in die gemeente is nie. Die kerk is die Here s’n. Dit is gekoop met sy bloed.

Wanneer ons dus oor die kerk en die gemeente praat of kla, moet ons altyd besef dis syne! Al is die kerk en gemeente nie soos dit moet wees nie, is dit nog steeds syne. Sy bloed het daarvoor gevloei. Ons moet mooi kyk daarna.

Oor die volgende klompie weke gaan ons saam droom oor hierdie geloofsgemeenskap waarvan ons deel behoort te wees. Ons gaan luister hoe hierdie gemeenskap van gebroke mense wat deur God heelgemaak is, iets van die hemel op aarde is en behoort te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.