ToekomsVenster: Dit is God se definisie van wen

wen-oorwinning

Foto: Japheth Mast/Unsplash.com

Wees simpatiek teenoor mense wat nie die pas kon volhou nie en iewers uitgesak het.

Ons is dikwels so in onsself gekeer dat ons nie dink aan mense wat die afgelope jaar buitegewoon uitdagend beleef het nie. Uiteraard weet ek nie hoe jou jaar verloop het nie. Dit mag en het na alle waarskynlikheid ook sy kwota van probleme gehad. Dit is die aard van die lewe. Ons is nog nie in die hemel nie, word populêr gesê. Dit bly nietemin waar.

Tog is dit ook so dat daar altyd mense is wat swaarder gehad het as ons. Dit word mos gesê dat ʼn mens uiteindelik verkies om jou eie bondeltjie op te tel. Ten minste weet jy wat daar binne is.

Daar is altyd mense met wie dit slegter gegaan het as met jou, indien daar hoegenaamd sprake is van sleg gaan. Somtyds het mense net nie genoegsame reserwes om die uitdagings van die lewe die hoof te bied nie. Sommige sak doodgewoon iewers langs die pad uit. Hulle raak net te moeg om aan te gaan.

Dit is altyd so aangrypend wanneer ʼn mens na ʼn wedren kyk en sien hoedat byvoorbeeld een van die atlete hard met die grond kennis maak. Dan gebeur dit somtyds dat iemand sy eie wen prysgee ten einde terug te draai en daardie persoon op te help, indien moontlik so te help dat hy met die resies kan voortgaan.

Daar is min dinge so mooi soos ʼn wen. Hierdie steek dit egter ver verby. Dit is God se definisie van wen.

Dit mag betekenisvol wees dat jy juis in hierdie tyd uitreik na mense wat iewers langs die pad uitgesak het. Verseker hulle van jou, meer nog, God se onvoorwaardelike aanvaarding. Daar is lewe aan die anderkant van verloor. Dis nie die einde van die pad nie. Geloof breek altyd nuwe moontlikhede voor ʼn mens oop. Help hulle wie se knieë lam geraak het…

Rom. 14:13 – Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie.

Efes. 4:12-13 – Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

1 Kor. 9:22-23 –  Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.