Jer. 17:9 – Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?
Die hart is spreekwoordelik die plek waar God sy diepste werk doen. As ʼn mens se hart verander het verander jou lewenswyse. As jou hart ver van die Here af is loop jou lewe skeef.
Die hart die bron van alles wat goed en wat kwaad is. Die hart wat aan die Here behoort bedink dinge wat God verheerlik en ander mense opbou en dien. Die hart wat steeds soos van klip is word nie geroer deur die onverstaanbare liefde van ons hemelse Vader nie.
Dit is ʼn vreemde gedagte dat daar inderdaad mense is wat onbeweeglik bly ten spyte van die liefdes pleidooie wat van God se kant af kom. Ons sê mos populêr – “ek het my hart vir die Here gegee”, of “die mense het harde harte”.
Om ʼn sagte hart te hê is te danke aan God se genade werk in jou lewe. As jou hart steeds nie aangeraak is nie, is dit vanweë jou eie halstarrigheid en onwilligheid om God toe te laat om jou lewe te verander.
Mens kan nooit die vingers na God wys en Hom verkwalik dat Hy nie jou hart verander nie. As jy spasie maak vir die Here, beweeg Hy in. As die deur gesluit is dwing Hy dit nie oop nie. Dit beteken egter nie dat die Here nie bly roep en klop dat ʼn mens al oopmaak nie.
Jare gelede het ons ʼn inisiatief gehad met die naam die “Nuwe Hart” beweging. Die aanleiding was die groot skuif wat daar in Suid-Afrika gekom het met betrekking tot gesonde morele waardes. Dit kom soos ʼn refrein na ʼn mens toe, “Suid-Afrika beleef ʼn morele uitdaging”. Waardes meet laag en waar dit tog geleer word sukkel mense om dit voldoende te integreer.
Hoe verklaar ʼn mens andersins die ontstellende hoe voorkoms van geslagsgeweld, korrupsie en ander vorme van misdaad? Waaraan skryf ʼn mens anders die verbrokkeling van gesinsstrukture en huweliksontrou toe?
Ons waardes laat dit lyk asof eens oortuigde Christene met die heersende kultuurstroom saamvloei eerder as om weerstand te bied teen die verkeerde.
Ons harte moet steeds vernuwe word, daaglikse vernuwing, wat kom deur die Heilige Gees en ʼn verbondenheid aan die Woord van die Here. Die teks waarsku ons teen onbetroubare harte.
Hoe is dit met jou hart gesteld?
ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Amen en Amen!
Dankie Vader U ken my!!
Here dankie dat U nooit ophou klop aan die deur van ons harte nie