ToekomsVenster: Dis nie die versoeking nie, maar wat ʼn mens daarmee maak

gebed-04

Foto: Pixabay.com

En lei ons nie in versoeking nie … – Matt 6:13

Anders gestel: Help ons om nooit te swig voor versoekings nie.

Die 1983-vertaling van die teks kan die idee laat ontstaan dat die Here ons in versoekings lei. Die bedoeling is tog duidelik anders. Die teks sê die Here versoek niemand nie. Ons kom in die moeilikheid wanneer ons begeertes ons in die war bring.

Jak 1:13-14: Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ʼn mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.

Versoeking is ʼn realiteit. Daar is nie ʼn mens wat nie daarmee gekonfronteer word nie. Jesus is in die woestyn versoek. Hy het egter nie toegegee aan die suggesties van die duiwel nie. Adam en Eva is in die tuin van Eden versoek. Die bose kom op ʼn baie subtiele wyse na ons toe en buig die waarheid net effens ten einde ons van koers te dwing.

Dis nie die versoeking nie, maar wat ʼn mens daarmee maak. Die spreekwoord sê mos ʼn mens kan nie help dat voëls bo-oor jou kop vlieg nie, maar as hulle in jou hare nes maak, het jy net jouself om te blameer.

Soms kan ʼn mens baie moedeloos raak wanneer die versoekings na jou toe kom. Jy worstel met die vraag hoedat jy wat die Gees van die Here het enigsins sulke dinge kan bedink. Die duiwel wil ons ontmoedig en stroop van ons vrymoedigheid om tot God te nader. Moenie dat hy jou intimideer nie. Moenie toegee aan versoekings nie. Hoe meer jy dit weerstaan, hoe makliker word dit om nee te sê.

Onthou die tyd van gebed vanaf 25 Mei (Hemelvaart) tot 4 Junie (Pinkster).

Die huidige knelpunte roep ons om ernstig te bid vir ons land en sy uitdagings met die verwagting dat die Here ons sal gebruik om die verskil te leef. Christene word opgeroep om daagliks te bid net waar hulle hulself bevind, veral gedurende die goue uur van gebed vanaf 12:00-14:00.

Daarbenewens word gelowiges uitgedaag om veral saam met onbekende mense te bid.

Vertel ander van hierdie inisiatief wat wyd ondersteun word. Besoek www.sapray.co.za of laai Toekomsvenster se gratis app af vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.