ToekomsVenster: Dis nie ek nie

juanita-badenhorst-07-silhoeët-blom-sonsondergang

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: Genesis 3:8-12:

“8 Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: ‘Waar is jy?’ 10 En die mens antwoord: ‘Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.’ 11 Die Here God vra toe: ‘Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?’ 12 Die mens het geantwoord: ‘Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.’”

Een van die gevaarlikste probleme waarmee ons almal worstel, is dié van vooroordeel. Ons maak graag karikature van mekaar. Witmense is só, swartmense is só, Engelse is só, Afrikaners is weer só! Dis nie net onregverdig om alle groepe oor dieselfde kam te skeer nie, dis ook onwaar. Almal is nie so nie! Terwyl ons gereedmaak om te bid, moet ons eers met mekaar praat: In hoe ’n mate is ons ook skuldig aan die “blame game”? Hoeveel keer is ons geneig om die splinter in die ander se oog raak te sien, terwyl daar ’n balk in ons eie oog is? Daarby: wat kan ons doen om die karikature in ons samelewing af te breek?

Gebed:

Vader God, ek bely vandag dat ek ook baiekeer ander mense blameer vir dinge wat ekself ook doen. Vergewe my dat ek mense oordeel voordat ek hulle stories ken. Vergewe my vir my vooroordeel teenoor ander rasse en mense sonder dat ek die feite en hulle perspektief ken. Vandag kies ek om deel van die oplossing te word en nie deel van die probleem nie. Weerhou my van oordeel, aanklag en om ander te blameer.

Leefwyse:

Om vooroordeel en karikature tussen mense te verwyder, is ʼn veeleisende en dikwels ondankbare saak. Dit geld van ons eie familiekring, ons vriende en gemeente, asook van die breër samelewing. Maar dis wat die Here van Sy volgelinge vra.

Om oor na te dink:

In hoe ʼn mate speel jy saam in die “blame game”? Dink aan voorbeelde in jou daaglikse lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.