ToekomsVenster: Dis Pinkster, dis oestyd

(Foto: Aarón Blanco Tejedor/Unsplash)

“ʼn Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.” – 1 Korintiërs 10:24 (AFR83)

So in my nadenke oor die belofte van die Heilige Gees en aan die vooraand van Jesus se vertrek na sy Vader val die woorde, dit is tot julle voordeel, my op. Interessant hoedat frases sommer as’t ware lewe kry en ʼn nuwe perspektief na vore bring. Uiteraard substansieer die Johannes-gedeelte op watter wyse die weg gaan van Jesus voordelig mag wees vir hulle wat agterbly. Die Gees kom om sy permanente intrek in die lewens van gelowige te neem.

Hy is die Trooster wat ook Leidsman tot die lewe is. Hy is Raadgewer en bemagtig ons vir ons dienswerk.

Wanneer God “iets” gee is dit tegelykertyd gawe en opgawe. Dis belofte enersyds en ook opdrag andersyds. Dis met die oog op, sonder dat daar afbreek gedoen word van die waarde wat dit vir die ontvanger het.

Hier is dieselfde scenario aan die uitspeel.

Die gawe van die Gees is tot voordeel van God se kinders sodat hulle die gawe met ander kan deel.

Die gawe mag nie versand in die lewe van gelowiges nie. Namate die gawe in diens van ander gestel word, word die seën wat met die gawe gepaard gaan, groter. As die voordeel wat die gawe bring nie weg vind na ander nie, raak die voordeel op die agtergrond.

Die Heilige Gees word uiteraard deur God gegee. So vertel Jesus aan sy dissipels – Ek sal die Vader vra en Hy sal aan julle ʼn ander Trooster gee, die Gees van waarheid, die dunamis van God.

Die eens bedreigde Petrus tree met Goddelike manhaftigheid op nadat die Gees uitgestort is. Nou maak hy geen geheim daarvan dat hy met die Seun van die mens geassosieer is nie.

Hy sing lofliedere as hy en Johannes in die gevangenis opgesluit is.

Hy wys die geestelikes van die dag daarop dat stilbly lank nie meer ʼn opsie is nie, ongeag watter gevolge dit mag inhou.

Petrus deel die gawe, die vrymoedigheid en bemagtiging wat die gawe gee met ander en derduisende mense kry ook deel daaraan.

Die voordeel moet ook vir ander ontsluit word deur die gehoorsame en dankbare getuienis van Geesvervulde mense.

Dit is Pinkster.

Dis oestyd.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.