ToekomsVenster: Dit gaan oor die liggaam


gemeenskappe

Argieffoto.

Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil. Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. – 1 Kor 12:7,11,12

Individualisme is die vloek van ons tyd. Elkeen leef net vir homself of haarself. Dit het oorgespoel na die kerk toe. Ons verhouding met God het privaat geword. Ons soek na ’n kerk wat ons behoeftes bevredig.

Hoewel ons verhouding met God ’n baie persoonlike saak is, is dit nooit privaat nie. 1 Kor 12-14, Rom 12 en Ef 4 bevat lang lyste van gawes in die gemeentes waaraan Paulus geskryf het. Hierdie gawes behoort nie aan individue nie, al ontvang individue dit. Dit behoort aan die liggaam. Dit het slegs sin as dit in die liggaam gebruik word. Die liggaam word so opgebou. Die liggaam groei so in volwassenheid  (Ef 4:11-15). Elkeen ontvang ’n gawe of gawes tot voordeel van die liggaam. Dit word afsonderlik gegee. Een persoon ontvang een soort gawe. Die ander ontvang ’n ander gawe. Dit gaan egter altyd oor die liggaam en watter voordeel dit vir die liggaam inhou.

Dis verskriklik hartseer wanneer gemeentes stry oor individuele gawes. Onder die lesers in Korinte het sommige mense minderwaardig gevoel omdat hulle nie dieselfde sogenaamde indrukwekkende of buitengewone gawes as ander gehad het nie (1 Kor 12:15-20). Hulle het hulleself uit die liggaam onttrek. Dis uiters selfgerig. Dis selfsugtig. Dit wys dat jy nie verstaan hoe ’n liggaam werk nie. Elk deeltjie het ’n funksie. Die dele wat ons soms nie raaksien en vereer nie, is noodsaaklik vir die behoorlike funksionering van die liggaam. Sou jou liggaam dieselfde wees sonder jou lelike groottoon, lang neus of bak ore? Nee, elke deel van die liggaam het ’n unieke plek en funksie.

Natuurlik het sommige lesers so gevoel omdat ander op hulle neergesien het. Daar was mense wat gedink het dat hulle gawes die belangrikste is (1 Kor 12:21-25). Hulle het gesê dat hulle nie die ander klomp regtig nodig het nie, want hulle het genoeg en buitengewone gawes. Dis so hartseer. Is ’n liggaam gesond wat net uit ’n kop bestaan? Hoe gaan dit loop of eet? Waar is die hart en longe?

Jou gawe is nie joune nie. Jy het dit gekry om dit met die liggaam te deel. Miskien kom dit as ’n verrassing as ek vir jou sê: jy het ook die ander mense nodig! Jy kan nie sonder hulle gawes oorleef nie. As jy geestelik en emosioneel gesond wil wees, hou op individualisties wees. Hou op selfgerig wees! Dien met die gawes wat God jou gegee het. Maak ruimte vir die gawes van ander!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.