ToekomsVenster: Dit is alles of niks


liefde-hart

Foto: Hercampus.com

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. – Gal 5:22-24

Liefde word in 1 Kor 13 as die allesoortreffende gawe van die Heilige Gees gesien. Almal het hierdie gawe as hulle Jesus en sy Gees het. Elke buitengewone gawe wat Paulus in 1 Kor 12:7-11 en 12:28-30 en 13:1-3 noem het geen betekenis as liefde ontbreek nie. Die Korintiërs moes hoor dat diegene wat op ander neergesien het omdat hulle nie dieselfde gawes as hulle het nie, dat hulle gawes soos leë blikke is (13:1), dat hulle niks is nie (13:2) en dat hulle gawes hulle niks in die sak sal bring nie (13:3). Dis asof die liefde die gawes in die gemeente vrystel. Kortom: ons het liefde of ons het niks!

In Galasiërs word die prentjie vergroot. Nou gaan dit oor die vrug van die Gees. Dit vloei in ons are om mekaar seer te maak en chaos te veroorsaak. Dis wat Paulus die praktyke van die sondige natuur noem (Gal 5:19-21). Hierdie soort lewenswyse bring verwydering tussen mense.

Dit verander radikaal wanneer die Gees van God ons lewe begin beheer. Nou sê Paulus ’n interessante ding. Hy praat van die vrug van die Gees. Dis iets wat in die mense wat met die ou sondige natuur gebreek het groei. Dis een vrug, nie baie nie. Stel jou ’n tros druiwe voor. Dis een vrug met baie korrels. Jy kan nie (soos sommige mense in winkels maak!) een korrel proe en die res laat staan nie. Jy vat die tros.

Dink mooi hieroor na. Paulus skryf dat ons nie nederig kan wees, maar geen liefde het nie. Ons kan nie getrou wees, maar nie liefhê nie. Ons kan nie ’n korrel hier en daar kies en dink dis aanvaarbaar nie. Kortom: Dis alles of niks.

As ons werklik ernstig oor die kerk van Jesus Christus is, sal ons ernstig wees oor Paulus se woorde. Alle diens aan mekaar, alle goeie dade, alle gawes waarmee ons die liggaam dien, word bepaal deur die liefde. Sonder liefde maak dit nie sin nie. Hierdie liefde word gebore en in stand gehou deur ons belydenis dat Jesus die Here is (1 Kor 12:3) en deur in pas te loop met die Heilige Gees (5:16,25). Dit het tyd geword dat ons hierdie kernwaarheid verstaan en begin leef. Ons het dit genoeg gehoor!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.