ToekomsVenster: Dit is gawes van God


gee

Foto: Zazzle.com

Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. – 1 Kor 12:5-7

As daar een saak is waaroor daar verskil van mening in kerke is, is dit oor die gawes van die Gees. Sommige mense sê dat die gawes van die Gees soos dit in Korintiërs voorkom, nie meer vandag voorkom nie. Ander mense glo dat hierdie gawes in ’n gemeente móét voorkom as die gemeente onder beheer van die Heilige Gees lewe.

Beide sienings is eensydig. Eerstens is die gawes van die Gees nie beperk tot wat in Korinte voorgekom het nie. Een gemeente se gawes kan nie die norm vir alle gemeentes word nie. Die Gees doen sekerlik baie meer as wat in Korinte voorgekom het. Die konteks waarbinne God deur Jesus Christus en sy Gees werk, verskil en daarom sal die gawes ook verskil. Die punt wat ek egter wil benadruk is dat die Gees steeds vandag die gemeente met gawes toerus!

Die tweede punt spreek daarom vanself. Soms sal alle gawes waarvan Korintiërs praat nie in gemeentes voorkom nie. Dit maak die gemeente egter nie geestelik armoedig nie! Soms sal die gemeente gawes ontvang wat Korinte nie gehad het nie. Maak dit die gemeente in Korinte geestelik arm?

Paulus stel ons gerus. Hy benadruk dat God op verskillende maniere werk. Daar is ’n verskeidenheid van gawes, skryf hy. Hy beskryf dit as genadegawes, bedieninge en werkinge wat deur die een God, Vader, Seun en Heilige Gees gegee word. Dis nie iets wat ons kan bewerk nie. Dis nie in ons mag nie. Dis nie onder ons beheer nie. Dis Gód se werk!

Ons moet daarom baie versigtig wees wanneer ons gemeentes beoordeel. Dis nie ons wat die gawes gee nie. As een gemeente nie dieselfde gawes as die ander het nie, moet ons nie krities wees nie. God gee aan elke gemeente wat dit nodig het om as sy liggaam te funksioneer.

Daar is egter een groot en onverhandelbare vereiste vir alle gemeentes. Paulus begin sy verduideliking oor die gawes aan die gemeente (1 Kor 12-14) met hierdie stelling: ‘Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees’ (12:3). Vir ’n gemeente om die rykdom van God se genadegawes, bedieninge en werkinge te ervaar, moet ons deur die werking van die Gees onder beheer van Jesus as Here staan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karma ·

Maroela, daar is kopiereg op dié “argieffoto” wat julle ter illustrasie gebruik het – dit is die voorblad foto Danielle Steele se boek “Precious Gifts”.

Landi Slatter ·

Dagsê Karma,

Baie dankie dat jy ons in kennis gestel het. Ons sal die foto spoedig verander.

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

AM ·

So baie dankie Maroela media vir hierdie boodskap. Dit is presies, op God se perfekte tyd, aan my gewys. Dit bevestig wat gisteraand in ons huis en huisgesin en ons huwelik gebeur het. Die Krag van die Heilige Gees deur God het ek gisteraand BELEEF! Niks is uit onsself nie! God is en bly in beheer! Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.