ToekomsVenster: Dit is jou probleem

vriende-strand-stocksnap-pixabay-stiltetyd.jpg

(Foto: Stocksnap/Pixabay)

“Wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense.” – Romeine 12:16-17

Ongemak is deel van die lewe. Daar is mense wat van jou hou en daar is mense wat jou liefs vermy.

Sommige is meer ingestel op verhoudings, vertrou makliker en verwelkom mense in hul spasie. Ander is inkennig, privaat, wantrouig en gereserveerd.

Konteks en ervaring, veral in jou grootwordjare, skryf saam aan die verhaal. Terwyl ons as Christene daarna behoort te streef om met alle mense reg te kom, sê die Evangelie dat dit dalk nie moontlik is nie. Die belangrike is egter dat die oorsaak van daardie spanning nie aan jou kant moet lê nie.

Die aangehaalde teks gaan voort om te sê: as dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Die Boodskap-vertaling sê dit mooi: “Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef.”

Kan ons vir ʼn oomblik nadink oor die mense met wie ons nie klaarkom nie.

Daar mag aanwysbare redes daarvoor wees. Jy verdien om met respek behandel te word. Jou menswees verdien om gerespekteer te word.

As beelddraer van die lewende God, verdien jy om soos ʼn medemens verwelkom te word. Gebeur dit nie, het jy ʼn verantwoordelikheid om jouself te beskerm.

Dit is somtyds baie moeilik om uit so ʼn verhouding te ontsnap, veral in huweliksverband. Enigiets is egter beter as die afknou van ʼn sogenaamde lewensmaat wat jou as slaansak, fisies en verbaal of emosioneel, gebruik.

Die vraag het egter te doen met wanneer daar geen rede is vir jou koue houding teenoor iemand anders wat toenadering soek nie. Daardie persoon se motiewe is, sover jy kan vasstel, suiwer, daar is nie bybedoelings nie en die persoon het jou geen skade aangedoen nie. Dan word dit tyd om navraag te doen – by jouself – die vraag waarom daardie persoon hierdie reaksie by jou tot gevolg het.

Herinner daardie persoon jou aan iets in jouself waarvan jy probeer wegkom?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.