Daar is darem baie mooi liedere oor die liefde, nie waar nie? Ek dink aan Louis Brittz se “U liefdeslied vir my” en aan “God is liefde juig ons harte….”
Natuurlik is daar mooi “sekulêre” liedere ook. Laat ek sommer dadelik myself korrigeer. Christene ken en handhaaf nie hierdie tweedeling nie. Ons het nie ʼn geestelike en daarnaas ʼn sekulêre (beestelike) lewe nie. Ons lewe voor God (Coram Deo) en is elke oomblik van die dag en nag besig om uitdrukking aan ons roeping te gee, nl. om die Koninkryk van God te laat kom.
So gesien kan ons waardering hê vir sg. wêreldse liedere wat iets verwoord van hierdie hemelse gawe. Ek dink sommer aan “Love is a many splendid thing”, of “Love me with all of your heart”, of “L is for the way you look at me” – stry, dit is vir jou ook mooi en dit mag maar wees!
Ons ontsê ons soveel vervulling en betekenis (genot) omdat ons buitegewoon vroom probeer wees. Die Bybel sê immers, vind jou vreugde (genot, genieting) in die Here en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart.
Daar is natuurlik liedere met inhoud wat ons nie kan onderskryf nie. Liefde is nie selfsugtige wellus nie.
Tydens Angus Buchan se jongste gebedsaamtrek het ek verskeie mooi liefdeshandelinge gesien afspeel voor my oë. Mense wat ander onder hul sonsambrele en skadunette innooi, water gee aan die hoedsmous, eetgoed uitdeel.
Dis liefde in praktyk en dis buitegewoon aantreklik.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za