ToekomsVenster: Dit is nog genadetyd

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het. – Hebreërs 3:7-8

Iewers by die SABC-gebou in Aucklandpark, Johannesburg het ek jare gelede graffiti teen ʼn muur gesien wat gelees het: “God weet, so kan dit nie aangaan nie”.

Wat tot die hulpkreet aanleiding gegee het weet ek nie, maar dat dit ʼn wanhoopskreet was, is duidelik.

Daar is tientalle scenario in ons wêreld en op aarde wat so ʼn kreet regverdig. Tans is die onhoudbare menseslagting in die Oekraïne, ja soldate aan Russiese kant sterf ook, een so ʼn scenario.

Die Bybel is vol versugtinge dat die Here sal ingryp in situasies en Hy doen dit ook.

Die ervaring van ons geestelike voorouers, die volk Israel is in die Bybel opgeteken. Hoe dikwels was die oormag van so ʼn aard dat niks minder as Goddelike ingryping sy kinders kon bewaar nie.

Merkwaardige verhale vertel van wat daar gebeur het.

Die mooi verhaal van Josafat het my nog altyd aan die hart gegryp. Met trom en harp begelei die soldate die singende skare terwyl hulle die vyand tegemoet loop. Die vyand slaan op die vlug.

Sewe keer rondom die mure van Jericho en die spulletjie tuimel in mekaar.

Een klippie en die godslastering wat uit die mond van Goliat en sy vriende soos besoedelde water stroom, word stilgemaak.

Dan weer, ʼn bebloede man aan ʼn kruis, sy ondersteuners weg of op ʼn afstand, naak uitgestal vir almal om te sien en die oënskynlik desperate woorde van  ʼn Godverlate mens, “my God, my God, waarom het U my verlaat”, bring verlossing vir mense dwarsdeur al die eeue.

Ja, die Here kan opdaag soos ek wil hê Hy moet dit doen. Soos die aarde oopgeskeur en die ongeloof en bespotting van mense, ja God se mense, ingesluk het wil ek dat Hy die aarde skeur en afreken met die ongeregtigheid.

Hy doen dit nie, en gaan dit waarskynlik nie doen nie, want daar is ʼn eensame kruis, waar my Heiland die liefde wat Hy vir my, vir ons, vir almal het, bewys het.

Daar is ʼn uitnodiging waarvan die woorde bekend is: Kom nou en laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here. Dit is nog genadetyd.

Daarmee saam speel die wêreldgeskiedenis homself af net soos God dit van ewigheid af beplan het.

Niemand verras Hom of vang Hom onvoorbereid nie.

Die boosheid sal hul dag voor die troon kry, Openbaring gee daarvan oorvloedige getuienis.

Ons is vandag eendag nader aan daardie afrekening.

Intussen is ʼn bebloede hand uitgesteek na hierdie wêreld.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.