ToekomsVenster: Dit is volbring

paasfees-danabaai-strand-deur-juanita-badenhorst-03

Danabaai se strand. Foto: Juanita Badenhorst.

Hierdie naweek gedenk ons die kruisiging, begrafnis en opstanding van ons Here Jesus Christus. Die gebeure baie jare gelede kry nuwe betekenis gegewe ons tydsgewrig en omstandigheid. Die Covid-19 virus laat mense met kommer, onrustigheid, onsekerheid en selfs vrees. Die dood is meermale ʼn teoretiese konstruk waarmee ons nie gekonfronteer wil word nie.  Nou egter neem ons kennis van groot getalle mense wat daagliks die lewe laat.

Ons in Suid Afrika, die hartseer van mense wat wel gesterf het ten spyt, kan dankbaar wees dat die virus tot nog toe nie so ʼn impak gehad soos in bv. Italië, Spanje en die VSA nie. Ons vertrou dat die vinnige maatreëls wat deur die owerheid ingestel het asook die samewerking wat Jan Publiek in die verband gee, bydra om die infeksiekoers in bedwang te hou.

Hoe dit in die nabye toekoms hier ter plaatse gaan uitspeel is onbekend maar ons bid en vertrou.

Die God-vraag (waar is God wanneer mense ly?) is ʼn belangrike maar moeilike vraag om te antwoord wanneer dit by swaarkry kom. So gesels ʼn klompie predikante hoe ʼn mens bv. oor Ps. 91 gesels waar gesê word dat pes en gevaar kinders van die Here nie sal tref nie.

  • 3 – Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag,
  • 6 – vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
  • 7  – Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.

My verstaan is dat daardie Psalm onder andere teen die agtergrond van hierdie naweek se gebeure interpreteer moet word. Paulus sluit in Rom. 8:31-39 daarby aan.

Ons kan ons teologie nie op ʼn enkele vers bou nie maar moet die Bybelse boodskap as geheel verdiskonteer. Lyding is te ene male deel van die Bybelse narratief en nie vreemd aan die lewe van die mense vir wie ons in die Bybel raakloop nie. Dit is veral die bykans misdadige vergryp aan die Seun van die mens wat aandag trek. Die vraag is hoe sy offer ons swaarkry beïnvloed.

Paasnaweek wil ons verseker dat God in Christus Jesus nie afwesig en onbetrokke is by ons lewensomstandighede nie. Trouens, die menswording van Jesus is juis ʼn demonstrasie daarvan dat God hom die omstandighede van mense ten diepste aantrek. Die leë graf getuig van die oorwinning wat oor alle negatiewe en bose magte, inderdaad alle negatiewe omstandighede behaal is.

Die gebeure van hierdie naweek wek hoop, troos en bemoediging by aardelinge. Ons is nie alleen nie. In Christus is God Immanuel, met ons.

Dit neem niks weg van die waarheid dat God steeds die Almagtige is nie. Die Korona virus is vir Hom geen uitdaging nie.

God is nie afwesig nie. Hy het Hom nie onttrek nie. Paasnaweek is ʼn sigbare en voelbare demonstrasie daarvan. Dit is volbring.

Mag jy ʼn baie geseënde Paasnaweek beleef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Baie dankie Vader vir Liefde en Genade en ons veilige skuilplek ten alle tye.

Yvonne ·

Dankie Here dat dit by U is waar ons skuiling vind teen enige lewens storm ook die virus…wees ons genadig in Jesus naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.