ToekomsVenster: Dit kos sy liggaam en bloed


hand-in-son-galleryhip-com

Argieffoto.

Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het. Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. – Ef 2:14,16

Ons het verlede week gesien dat die kerk op die fondament van die getuienis van die apostels en profete aangaande Jesus Christus gebou is. Hy is die hoeksteen van die kerk en die gemeente (Ef 2:20).

Hierdie gedeelte gee egter die ware rede hoekom Christus die hoeksteen is wat die kerk bymekaar hou. In die vorige gedeelte skryf Paulus dat ons uit genade gered is (Ef 2:1-10). Ons was ver van God af. Ons was verlore. Ons was dood (Ef 2:1-3).

Toe kom Jesus Christus. As jy ooit ’n wonderwerk wou sien, is dit hier. God se genade vir dooies, opstandige mense en vyande van die goeie straal uit Hom deur Jesus Christus. Wat het Hy gedoen? Hy het gesterf en opgestaan. Dooies is opgewek (Ef 2:5-7). Mense wat ver van God was het naby gekom deur die bloed van Christus (Ef 2:13).

Is Jesus net ’n Redder van sondaars? Het Hy net gekom om vir ons ’n plek in die hemel te gee (Ef 2:6)? As jy so dink, het jy nie die res van die hoofstuk behoorlik gelees nie. Jesus het óók gesterf sodat sy kerk een kan wees (2:14,16).

Ef 2:11-22 benadruk dit met verskillende beelde. Eenheid met Christus Jesus se noodwendige gevolg is eenheid met mekaar (2:13,14,16). Deur Christus en sy Gees vat ons hande en staan saam in die teenwoordigheid van God (2:18). Ons het een Vader. Ons is een gebou (2:20). Ons is deel van die huisgesin van God (2:19). Ons is een tempel (2:21). Ons is een geestelike huis waar God woon (Ef 2:22).

Dis alles die gevolg van Jesus se dood en opstanding. Elkeen wat eenheid ernstig neem eer die genade van God. Elkeen wat eenheid ernstig neem eer die dood en opstanding van Christus.

Wat het dit gekos om eenheid te bewerk? Alles. Hy het daarvoor gesterf. Jy is saam met Hom opgewek. Wees nou soos Hy. Jaag eenheid na!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joh. 3:16 ·

‘Wat het dit gekos om eenheid te bewerk? Alles. Hy het daarvoor gesterf. Jy is saam met Hom opgewek. Wees nou soos Hy. Jaag eenheid na.’

Oppas! Christus het nie gesterf vir eenheid nie. Christus het gesterf vir my sondaar. As eenheid die hoogste doel van Christus se menswording was, dan werk die Vader van Gen. 11:6 teen die Seun. Dit kan nie wees nie. Die Bybel en dus God in sy Drie-eenheid weerspreek Homself nie. Daar is een geloof en dis die geloof dat Jesus Christus kom sterf het voor die regverdige oordeel van God vir die straf van elke sondaar wat tot bekering kom. Dié geloof is dié eenheid. Nie die ophef van alle natuurlike verskille nie. Ons moet dié geloof najaag. Ons eenheid is reeds bereik in Christus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.