ToekomsVenster: ‘Dit sal mos nie met my gebeur’

(Foto: @mustudio/Unsplash)

“Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie.” – Markus 13:33 (AFR83)

Daar is ʼn wye verskeidenheid van scenario’s waar ons sekerlik al gesê het “dit sal nie met my gebeur nie”. Ek reken as ons die geleentheid kon hê, sal baie mense vertel van ervarings wat hulle nooit gedink het hulle te beurt sal val nie. Dit kan allerlei dinge insluit maar, binne konteks van hierdie week se oordenkings, dink ons na oor versoekings wat oor ʼn mens se pad gekom het.

Hoor my dat ek hierdie dinge nie noem sodat jy in ʼn verleentheid sal kom of deur skuld oorrompel sal word nie. As dit die geval was, sou vier vingers spreekwoordelik na my gewys het.

Die bedoeling is dat ons mekaar opskerp vir die stryd wat daar aan die gang is en waaroor die Bybel ons waarsku.

Terwyl sommige mense die bestaan van die bose as ʼn sprokie wat gebruik word om kinders op hul plek te hou afmaak, glo ek dat die meeste lesers kan getuig van ervaringe wat die teenoorgestelde bewys. Dank die Here dat nie net die bose ʼn werklikheid is nie maar dat die Lewende God, in die persoon van Jesus van Nasaret, die oorwinnaar oor elke bose mag is. Die Evangelies getuig van die gesag wat Jesus oor die bose gehad het, trouens, die finale nekslag wat Hy die bose toegedien het was Golgota se heuwel en die oop graf.

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” − Romeine 8:37 (AFR83)

Ons moet egter daagliks, oomblik-vir-oomblik, die keuse maak om in daardie oorwinningskrag te leef.

“Dit sal nie met my gebeur nie”.

Wat mag die inhoud van daardie frase in jou lewe wees?

Wat is dit waarvan jy sê dat jy sterker en groter is as die versoeking?

Waarop baseer jy jou aanspraak dat jy die versoeking sal kan weerstaan, dat jy die uitsondering op die reël is, dat jou verdedigingsmeganismes die situasie sal kan hanteer?

Wat maak jou so seker dat jy betyds die streep in die sand sal kan trek, sal kan sê, tot hier en nie verder nie, dat jy sal kan wegstap terwyl daar nog ʼn kans is?

Sou die ideaal nie wees dat ons hoegenaamd nie kuier en vertoef in daardie onveilige sone nie?

Alles wat skitter is nie goud nie. Moenie jouself laat mislei nie.

Miskien staan jy voor ʼn oomblik van beslissing, dit is nou of nooit.

Daar is nog ʼn geleentheid om die saak die rug toe te keer.

“Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” − 2 Korintiërs 6:2 (AFR83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

“Waarop baseer jy jou aanspraak dat jy die versoeking sal kan weerstaan, dat jy die uitsondering op die reël is, dat jou verdedigingsmeganismes die situasie sal kan hanteer?”

Littekens, my broer in Christus, littekens van vorige oortredinge….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.