ToekomsVenster: Dit sal nooit met my gebeur

(Foto: Anna Tarazevich/Pexels)

“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” – Jesaja 1:18 (AFR83)

“Dit sal tog nooit met my gebeur nie”.

Nooit is ʼn baie lang tyd, en nooit haal baie mense in. Vir een of ander rede dink ons dat ons bo aardse versoekings verhewe is.

Ons kyk na mense en blameer hulle kopskuddend dat hulle onverskillig leef. Ons bespreek hulle met ander mense en skuif hulle algaande uit ons verwysingsraamwerk en sosiale kring uit.

Ons is blind vir ons eie foute, meer nog ons eie broosheid en geneigdheid tot die verkeerde. Ons fokus op ander mense en hulle gebreke, foute, mislukkings en teleurstellings, want solank as wat ons dit doen hoef ons nie met ons eie onvolmaaktheid gekonfronteer te word nie.

Ons is eintlik oneerlik met onsself en ander en rasionaliseer waarom ons nie in die spieël moet kyk en ons eie foute moet bely nie.

“Dit sal nooit met my gebeur nie. Ek sal nie afhanklik raak van enige middel nie. Ek kan my drank hanteer. Dit was nog nooit en sal ook nooit my baas wees nie. Ek drink sosiaal en dit is heeltemal onder beheer.”

Kom ons stel dit duidelik, om alkohol te gebruik is uiteraard nie sonde en verkeerd nie, maar wanneer alkohol en substans jou gebruik, trouens jou misbruik, dan is jy in die moeilikheid.

Geen verslawing vind oornag plaas nie, dit kom met verdrag en subtiel neem dit jou in beslag. Dit kom in die mooiste beloftes van vryheid en aanvaarding.

Vir ander is dit ʼn geleentheid om ontslae te raak van die seer en die pyn van hierdie wêreld. Dit verdoof slegte emosies en help jou om vir ʼn oomblik te ontvlug. Dis egter nie lank nie en jy smag na daardie ontvlugting. Ten einde dit in dieselfde mate te kan ervaar moet jy al hoe meer van die substans begin gebruik.

As dieselfde hoeveelheid en frekwensie vir jou dieselfde ervaring kon gee sou dit seker nie ʼn probleem wees nie. Dit moet egter meer gereeld en in groter mate gebeur.

Jy begin jok oor jou gewoontes, rasionaliseer dit. Jy raak kwaad wanneer mense jou daarop wys, jy leef in ontkenning. Jy doen jouself en ander mense soveel skade aan, maar jy het nie genoeg motivering om daarvan ontslae te raak nie.

Die goeie nuus is dat daar wel bevryding beskikbaar is. Die pad mag lank en moeisaam wees, dit mag met trane gepaard gaan, dit mag jou ʼn klompie vriende kos en dit mag wees dat mense oor jou skinder.

Die meeste sal dit egter bewonder dat jy verantwoordelikheid aanvaar het vir jou lewe en vir die van die mense rondom jou.

Jesus is nie kwaad vir jou omdat jy drank misbruik nie. Hy verstaan beter as wat jy dink. Hy is anders as mense. Hy skryf jou nie af nie en ook nie uit die boek van die lewe en van die Lam nie.

Hy bied aan jou die geleentheid om genees te word. ʼn Enkele teksvers gaan dit egter nie doen nie. Klop by professionele mense aan, steek jou trots in jou sak, besluit dis nou of nooit, doen wat volwasse mense doen en aanvaar verantwoordelikheid vir jou eie lewe.

Jou lewe is nie verby nie, maar as jy so aanhou is daar nie veel oor nie. Jy mag fisies leef, maar aan die binnekant stadig doodgaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.