ToekomsVenster: Dit vat moed om grense oor te steek

voëltjies

Foto: Pixabay.com

“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” – Matteus 5:11

Suid-Afrika is sekerlik die land met die meeste vredemakers en die minste vrede. Daar is ’n kerk op amper elke hoek; selfs klein plattelandse dorpies het tientalle kerke. Om vrede te maak, is egter geen maklike taak in ’n land waar daar soveel vooroordele tussen mense bestaan nie.

Dis belangrik dat ek en jy weet waarvoor ons ons inlaat as ons dit gaan waag om so vry soos Jesus lief te hê.

Daar was ’n paar maniere om iemand te beledig in die antieke tyd: Jy noem die persoon ’n verraaier (iemand wat ’n vriend is van die vyand), jy sê hy is ’n dronkaard of losbandig, hy is mal of van die bose besete. Die godsdienstiges, en selfs Jesus se eie familie, het hierdie tipe dinge van Hom gesê.

As ek en jy dit agter Jesus aan gaan waag, is die kanse goed dat dieselfde dinge van ons gesê gaan word.

Dis egter een ding as dit by vreemdelinge en vyande kom, maar mense wat radikaal oor grense liefhet, word dikwels deur hulle eie mense beledig en vervolg.

Ek het nou die dag met ’n groot groep jongmense gepraat en gevoel dat ek hulle moet waarsku dat, as hulle dit gaan waag om vredemakers in Suid-Afrika te wees, hulle oor kultuur en ekonomiese grense heen vir mense lief gaan wees, die kanse goed is dat hulle van die grootste kritiek en verwerping gaan kry by die mense die naaste aan hulle; familielede, vriende en selfs hulle ouers.

Dit is waarom dapperheid een van die grootste Christendeugde is.

Gedagte

Was jy al ooit in die moeilikheid omdat jy gekies het om ’n vredemaker te wees?

Gebed

Here ek bid teen die groeiende haat tussen mense in ons land. Gee my asseblief die moed om ’n vredemaker te wees. Amen.

Onthou die tyd van gebed vanaf 25 Mei (Hemelvaart) tot 4 Junie (Pinkster).

Die huidige knelpunte roep ons om ernstig te bid vir ons land en sy uitdagings met die verwagting dat die Here ons sal gebruik om die verskil te leef. Christene word opgeroep om daagliks te bid net waar hulle hulself bevind, veral gedurende die goue uur van gebed vanaf 12:00-14:00.

Daarbenewens word gelowiges uitgedaag om veral saam met onbekende mense te bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lourens ·

Dis daardie mense met hul rassisme en antisemitisme wat hoogmoedig glo hulle is die uitverkore volk en selfs dreig hulle gaan ons Christene vermoor wat binne in die antichris se strik gaan trap.

Eish ·

Ja, n kerk byna op elke hoek. Klink allermins na vrede. Die plek is heeltemal “overtraded” Hoekom soveel denominasies? Verskillende skakerings van vrede?

Ander Annie ·

Daar is hele valse kerke, wyd en syd oor die wêreld. Sommige kerke is nie meer kerke nie, dit word bedryf soos besighede en die sogenaamde predikante verryk hulself. Dit is on van naar te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.