ToekomsVenster: Dit was bestem

getsemane-jerusalem-israel

Foto: Stacey Franco/Unsplash.com

Daarna kom Jesus met sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” – Matt. 26:36

Nou breek die dag van afrekening aan waar die onskuldige Jesus sy lewe as ʼn offer aanbied sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar, die Ewige lewe sal hê. (Joh. 3:16)

Die gebeure word natuurlik voorafgegaan deur die trauma wat Jesus in die tuin van Getsemane beleef het.

Dit is in ʼn tuin waar mense, Adam en Eva, vir God moes wegkruip omdat hulle skielik bewus geword het van hul naaktheid. Naaktheid is ʼn metafoor vir hul ontblotendheid voor ʼn Heilige God.

Die slang was te oortuigend en die eerste egpaar het besluit om die leuen te omarm. Die geskiedenis is aan ons bekend.

Jesus, eweneens in ʼn tuin, smeek die Vader om die beker wat vir Hom geskink word, te weerhou.

Sy sweet word soos bloed druppels, staan daar. Die driemanskap wat hy met Homself saamgeneem het, sy vertrouelinge, die binnekring, oorweldig deur droefheid om hulle Here en Meester so te sien, raak telkens aan die slaap.

Nie lank nie en die verraad van Judas sal ten hemele skreeu.

Met ʼn kus word die Seun van die mens verraai.

Dan word Hy in daardie ongenaakbare nag van bakboord na stuurboord gestuur om verhoor, aangekla, verneder, beswadder en verontreg te word.

Jesus deins nie terug nie.

Hy weet waarvoor die Vader Hom bestem en waarvoor Hy Homself aangebied het en is van voorneme om die pad tot by sy finale konsekwensie te loop.

Is dit, is dit my Koning.

Kyk daar aanskou die mens

Is dit is dit sy kroning

Wie het dit so gewens

Is dit sy Koningshulde

Die riet, die kleed, die kroon

Boet Hy so vir my sonde

Word so Gods Seun vertoon? – Ges. 133

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here my God vir die liefde en genade vir die mensdom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.