ToekomsVenster: Dit wat jy sê

skinder

Foto: Danielboutiqueblog.com

As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. – Jakobus 1:26

Spreuke 10:31 – Daar kom wysheid uit die mond van die regverdige, ‘n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word.
Spreuke 21:23 – Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar.

Ai, die Jakobus druk sy vinger waar dit baie gevoelig is. Die tong het die meeste van ons al in troebel waters laat beland. Baie van die sake wat Jakobus aanstip word later weer opgeneem. Dis ook so met die tong. Ons loof God en ons beledig mense wat na die beeld van God gemaak is. Soet en bitter water kan tog nie uit een fontein kom nie maan die woord. Iewers is daar radikaal fout.

Een van die uitdagings wat baie van ons het, is om van ander agter hul rug te praat. Somtyds met die bedoeling om te beledig en te kwes en verdag te maak. Ander kere agter die vroom verskoning dat dit terwille van gebed is. Die goue reël is seker om niemand op watter wyse ook al te bespreek tensy hulle teenwoordig is nie. Uiteraard is dit in orde om mooi en positiewe dinge van mense kwyt te raak.

Om egter agter iemand se rug op te tree, is verraderlik. Dit gebeur in die praktyk dat mense wat jy met baie vertroulike inligting vertrou het dit gebruik om jou te na te kom en somtyds selfs om hul eie saak te bevorder. Dis hartseer wanneer dit gebeur. So ʼn vertrouensverhouding kry baie seer en word somtyds nooit herstel nie. Mens se binnewêreld en belewenis is uiters sensitief en moet met groot deernis hanteer word as jy daarmee vertrou word.

Spreuke 16:28 – Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.

Ongelukkig gebeur dit in ons land dat mense leuens van mekaar verkondig waarvan die feite nie gekontroleer is nie. Fopnuus is ʼn onsinnige vermorsing van tyd en tog word soveel mense daarmee op sleeptou geneem. Dit gebeur ook dat stories oor en oor na mense gestuur word sonder dat die feite daarvan gekontroleer is. Sommige daarvan is so oud soos die berge. Nie- Christene lag vir ons omdat ons so goedgelowig en kan optree.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.