ToekomsVenster: Doen God nog wonderwerke?

Argieffoto (Foto: Rose Erkul/Unsplash)

Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil. – Hebr.2:2-4

Dit is alles woorde wat ʼn mens laat dink: tekens, wonders, kragtige dade.

Wanneer jy die nuwe Testament lees word jy oorweldig en beïndruk deur die groot aantal wonders wat plaasgevind het. Natuurlik is Jesus se bediening deur wonders en tekens gekenmerk. Die apostels wat met die werk voortgegaan het na Jesus se Hemelvaart het dit eweneens as ʼn  realiteit beleef. Immers, dit is hoe die laaste verse van Markus eindig nie waar nie. Dit vorm deel van die afskeidsbelofte waarmee Jesus sy dissipels vertrou.

Mens wil vra wat van hierdie belofte geword het? Doen God nog sulke wonderbare dinge deur sy Gees en deur die bediening van sy dienaars?

Toegegee, ons mag die wonder van elke dag, van gesondheid, van God se voorsiening in ons lewens, van die mense wat vir ons kosbaar is en deel van ons verwysingsraamwerk vorm, nie miskyk nie. Wonders en tekens is nie net in die opspraakwekkende teenwoordig nie. Dit is in die alledaagse, die gewone en die ritme van die lewe ewe teenwoordig.

Ons oë moet net daarvoor oop wees en ons moet die genade ontvang om genoemde dinge nie as noodwendig, voorspelbaar en vanselfsprekend te aanvaar nie.

God sorg elke dag en dit getuig eweneens van sy mag en majesteit.

Mens hoor getuienis van mense wat baie siek was met Covid-19 en wat wonderbaarlik bykans uit ʼn  sterfbed opgestaan het. Dit is wonderlik om te hoor hoe die lof en erkenning aan die Here gebring word. Om in Christus Jesus se sterf, wetende dat jou naam geskryf is in die boek van die lewe en van die Lam, dat niemand jou van sy liefde kan vervreem nie, is eweneens wonderbaarlik en aangrypend kosbaar.

Tog moet ek bely dat ek eg kinderlik bid en glo dat die Here ons veral in hierdie uitdagende tyd op ʼn  buitengewone wyse sal ontmoet.

Mag ek bid en glo dat ons ʼn  vierde vlaag gespaar sal bly, dat die virus wonderbaarlik, selfs vir geen verstaanbare rede net sy wyk sal neem en sal ophou om soveel verwoesting te saai, ens.

Inderdaad, sonder twyfel. By my is daar geen twyfel nie. Hy is die God van elke goeie en volmaakte gawe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Ja, hoeveel “toevallighede” in ons lewens is nie dikwels wonderwerke nie??? Want ons besef daar bestaan nie iets soos toevallig nie.

Trotse Boervrou ·

Amen Frank. Niks is toeval nie. God is in beheer, elke sekond van die dag.

AH ·

Inderdaad ek het my hele lewe lank al menige wonderwerke ervaar, maar die afgelope paar weke weereens besef dat HY in beheer is met regte wonderwerke wat met my persoonlik gebeur het.

Hasie ·

God het alles haarfyn beplan en dit is opsigself ‘ n wonderwerk

Yvonne ·

Amen….feit bly staan God is in beheer….tot in alle ewigheid…..dit opsigself is n wonderwerk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.