ToekomsVenster: Doen iets

vriendskap

Foto: Helena Lopes/Unsplash.com

Die kruis het twee “asse”, die vertikale en die horisontale. Die vertikale verwys na die interaksie tussen God en mens en andersom. God reik deur sy Gees na die mens met ʼn uitnodiging om met Hom versoen te word.

Ons leef in vyandskap met die hemel vanweë die sonde in ons menswees. Sonde is rebellie teen die heerskappy van die Allerhoogste. Uiteraard word hoogverraad met die dood gestraf. Jesus het daardie straf namens ons kom dra, ons met die Vader in verhouding gebring en geseën met sy Gees. Ons reageer op sy onmeetlike liefde deur gebed, in aanbidding en erkenning van sy grootheid. Daar vind ʼn verkeer plaas tussen die hemel en die aarde. Die pad is oop, die gordyn is geskeur, ons het vrye toegang tot die Vader.

Horisontaal gaan dit oor wat tussen mens en mens gebeur. Wie op hierdie vlak onverskillig lewe verstaan nóg die liefde van God, nóg die appèl wat dit op ʼn gelowige maak. Ons is gered, verlos en bevry om diensbaar te wees. Ons is God se gestuurdes in hierdie wêreld.

Joh. 17:18 – Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.

Om ander opofferend te dien kom nie natuurlik nie. Ons reken in die woorde van Romeine ons daagliks, ja oomblik vir oomblik, dood vir die sonde en lewend vir God.

Romeine 6:11 – Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

As koninklike priesterdom (1 Petr.2:9) verkondig ons die groot dade van God aan elkeen wat wil hoor. Na voorbeeld van Jesus bind ons die handdoek om en was ander se voete spreekwoordelik. (Joh.13:4) Ware grootheid in die Koninkryk leer Jesus is om diensbaar te wees. Die Seun het immers sy hemelse heerlikheid verlaat en mense gelyk geword, soos ʼn slaaf onder ons kom woon en ons met die liefde van God gedien. (Fil.2)

So baie gelowiges wag vir iemand om die wêreld ʼn beter plek te maak. Hulle redeneer daar is mense wat spesiaal geroep word om ʼn verskil te maak en dan is daar die pawiljoensoekers wat die wedstryd dophou.

Die pawiljoen is  egter bedoel vir ons voorgangers wat die stryd betekenisvol en suksesvol gestry en die resies voltooi het.

Elke dag is ʼn geleentheid om sin te gee aan jou bestaan. Daar skuil ʼn groot stuk vervulling (geluk) in ʼn lewe van gehoorsame toewyding en betrokkenheid.

Waarvoor wag jy? Doen iets! Daar is groot nood rondom jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kornel ·

Wow ek is spraakloos, maar ook baie gelukig om hierdie boodskappe te kan lees en beleef.
Dankie Here vir al U leiding en hulp.
Verander my en my gesin se lewe asseblief. Vul ons met U Heilige Gees vandag.
Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.