ToekomsVenster: Dra mekaar se las

sambreel-donker-help-hulp

(Foto: @emotional_discord/Unsplash)

Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. – Gal.6:2

Die lewe is somtyds ongenaakbaar onvriendelik. Mens weet nie hoe jy dit het nie, die een hartseer word met die volgende uitdaging begroet. Jy vra hoeveel een mens nog kan hanteer, jy soek na rede vir jou situasie, jy raak kwaad en teleurgesteld en jy is selfs opstandig teenoor God.

Feit van die saak is dat hierdie werklikheid gebroke is en dat ons nog nie in die hemel is nie. Die Bybel hou boonop nie aan ons ’n ander werklikheid voor as die een wat ons daaglikse beleef nie. Hartseer en pyn, nood en gebrek is te ene male deel van ons werklikheid en dit help nie om daarteen in opstand te kom nie. Dit is genade om swaarkry stylvol en nederig te verdra. Die Here wil ons daarin bystaan.

Dan weer is ons nie alleen in ons nood nie. God is daar, hoe onwaarskynlik en onwerklik dit ook al mag voel. Hy is tog Immanuel, God met ons. Hy, die Seun van die mens was van sy Vader verlate sodat ons nooit in tyd en in ewigheid van Hom verlate sal wees nie. Derhalwe sê die Woord, “roep my aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou red”. (Ps.50:15)

Paulus roep gelowiges op om mekaar se laste te dra. Wat dit in die praktyk beteken verskil uiteraard van situasie tot situasie. Somtyds kan ’n mens materieel betrokke raak en die fisiese nood wat mense beleef, help verlig.

Ander kere is die nood nie fisies van aard nie en is ’n simpatieke oor wat bereid is om te luister sonder om eenvoudige antwoorde te verskaf wat nodig is.

Ander kere is dit om die in stilte van jou binnekamer mense wat nood belewe se name voor God se genadetroon te bring. Vra die Here om jou te wys hoe jy betrokke kan wees en ander se las ligter kan maak.

Ek is so dankbaar vir die vertroostende word in Matt. 11:28:

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee”.

As jy vandag swaar dra, weet dat die Here jou nie gelos het nie. As jy vandag help dra, weet dat jy spesiaal is vir God.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.