ToekomsVenster: Dra mekaar se laste


hande

Argieffoto.

Gal 6:1-3: Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself.

Ons is geneig om aan medelye op ’n negatiewe manier te dink. Ons dink gewoonlik aan hulle wat swaar kry en wat vertroos moet word. Dis goed en reg dat ons medelye met mense in nood moet hê. Ons is dit aan hulle verskuldig. Dis wat Christene doen. As medelydende gemeenskap moet ons ook naby hulle staan wat in sonde geval het (Gal 6:1). Immers, ons kan ook in die versoeking kom. Die gemeente is ’n gemeenskap van gebrokenes.

Daar is egter ook ander perspektief. Net soos ons ly saam met hulle wat ly en bly is saam met hulle wat bly is, moet ons nie net medelye in negatiewe situasies betoon nie. J P Versteeg, die Nederlandse Nuwe Testamentikus verwys na die woord wat Paulus in Gal 6:2  vir ‘laste’ gebruik. In die Griekse vertaling van die Ou Testament word hierdie woord nooit vir laste of probleme gebruik nie. Die woord word gebruik om die Hebreeuse woord vir ‘eer’ of ‘heerlikheid’ te vertaal. Laste en moeilikhede word met ’n ander Griekse woord vertaal.

Daarom, sê Versteeg, verwys die laste wat ons van ander moet dra, dalk ook na die waardigheid en die eer wat mense het. Ons moet ook die gawes wat mense het help dra. Soms laat hierdie gawes hierdie mense uitmunt. Ons moenie mekaar probeer aftrek nie. Ons moet eerder alles doen om hulle te help dra aan die groot verantwoordelikhede wat hiermee saamgaan.

In beide gevalle, wanneer ons iemand se probleme en sonde help dra en wanneer ons mense se goeie hoedanighede help dra, aanvaar ons dat ons nie beter of slegter as ander is nie.  Ons skuif liewer ons skouer onder die las van ander in. Ons help hulle om nie moed te verloor wanneer hulle gesondig het nie, want ons het ’n gees van sagmoedigheid. Ons help ander om nie te swig onder die druk van groot verantwoordelikhede nie. Ons help hulle om nie hoogmoedig te word nie. Ons gee erkenning aan hulle vir die taak wat hulle het. Ons sien op niemand neer weens hulle sonde nie. Ons trek niemand af omdat hulle gawes het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.