ToekomsVenster: Draai ook die ander wang

Foto ter illustrasie. (Foto: Andre Hunter/Unsplash)

As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan. – Lukas 6:29 (NLV)

“Dis makliker gesê, as gedaan!” Het jy ook al so gevoel, ja selfs so gepraat?

Die teks is pragtig, verdienstelik, navolgenswaardig, Christelik en geïnspireerd, totdat dit met jou gebeur. Iemand deel klappe uit en jy is aan die ontvangkant, iemand eien homself onregmatig goed toe en dit is jy wat dit ontgeld.

Ek moes self sluk aan my woede en gevoel van verontregting toe ek nou die dag vir die derde keer probeer om ʼn motorlisensie te hernu. Die agtergrond is nie ter sake nie, wel wat daar gebeur het.

Miskien oordeel jy dat ek aan die verkeerde kant van reg staan, dan maak ek daarmee vrede. Immers, my ontsteltenis het darem nou al oorgewaai maar nie voor ek aan my trots moes sluk nie. Ek herinner myself wat die Bybel oor trots en hoogmoed te sê het en bekeer my summier weer ʼn keer.

Soos te wagte is die ry by die betrokke verkeersdepartement in Krugersdorp meestal lank en moeisaam. Dit is juis die agtergrond waarteen ek besluit om liewers vroegoggend te probeer.

So gesê en so gedaan.

Teen die tyd dat ek daar aankom, rondom 07:30, staan die motorry ver straataf geparkeer. Ek is op pad om my plek heelagter te gaan inneem toe ek ʼn ry mense by die hek sien staan. Links en regs van my parkeer motors op die sypaadjie, buite die terrein en stap na die hek wat steeds toe is.

Ek volg hulle voorbeeld en parkeer self op die sypaadjie. Ek neem die tersaaklike dokumente met my saam en stap na die aangewese plek waar ek tweede in die ry beland. Die deure steeds toe.

Motors ry verwoed by my verby en parkeer op die terrein terwyl ek moedig aanstap. Soos mense aankom val hulle in die ry in. Net agter my staan ʼn vrou, derde in die ry, wat luidkeels uitbasuin dat ek ingedruk het. Ek moes soos hulle 06:00 reeds buitekant parkeer en my plek agter die konvooi motors ingeneem het.

Ek verstaan dit nie.

Sommige het verkies om in te ry, ander weer om in te stap. Nêrens is daar ʼn teken wat aandui dat instap verbode is nie. Ek het my plek regmatig bekom (altans so glo ek). Die vrou hou doodgewoon net nie op om opmerkings te maak nie terwyl ek beheersd verduidelik dat ek niks verkeerd gedoen het nie. Geen salf te smeer nie totdat ek dodelik verleë uiteindelik my pakkie vat en besluit om die volgende dag weer te probeer.

Dit klink nou baie edel maar op daardie stadium stoom ek behoorlik aan die binnekant. Ek is kwaad en wil vergeld, terugstap en my regmatige plek weer gaan inneem.

Net die Here se genade dat ek dit nie doen nie.

“Draai die ander wang, gee die onderkleed.” Ek is nie seker of dit is wat ek gedoen het nie, maar ek het weer bewus geword van hoe kort van draad ek is en hoe maklik ʼn mens se getuienis verwater.

Môre val ek weer in die ry.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
casper

Oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand.