ToekomsVenster: Drie in een

(Foto: Tamara Menzi/Unsplash.)

“En daar kom ʼn wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ʼn stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!” – Markus 9:7 (AFR53)

God openbaar Hom aan ons as ʼn drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Die hele idee van drie Persone, maar een God, is iets wat nie met die verstand begryp kan word nie. Dit is ʼn misterie en is nie iets wat dissekteer kan word nie.

Soos met baie ander geloofswaarhede, aanvaar ʼn mens dit as ʼn gegewe en as die waarheid. Die aanvaarding kom egter vanweë die bevestigende stem van die Heilige Gees binne in ons, wat getuig dat hierdie openbaring inderdaad die waarheid is.

Ons is gelowiges, dink vir ʼn oomblik daaroor na.

As ons alles verstaan het, alles kon verduidelik het, was geloof oorbodig. Geloof, sê die Hebreër skrywer, is ʼn vaste oortuiging van die dinge wat ons nie sien nie, dinge wat ons nie noodwendig verstaan nie, dinge wat bo ons begrip is maar wat ons tog van harte glo.

Dit insigself is deel van die wonderwerk wat God in ons bewerkstellig deur die wedergeboorte. Uit onsself is ons nie in staat om die dinge te akkommodeer nie. In ʼn koue en dikwels rasionele wêreld, kan mense nie verstaan hoe ʼn mens dinge kan aanvaar op sigwaarde nie. Dit onderstreep die grootsheid en die genade van God.

Dan weer aanvaar ons baie dinge selfs daagliks op hierdie wyse. Ons klim op ʼn vliegtuig en glo dat ons ons bestemming gaan bereik. Ons maak ʼn belegging en glo dat dit ʼn goeie opbrengs gaan lewer. Ons tree in die huwelik en glo dat dit ʼn gelukkige en betekenisvolle verhouding gaan wees. Ons werp ons brood spreekwoordelik op die water en glo dat dit na vele dae na ons toe sal terugkom.

Jan de Wet sing dit so mooi in die lied “Ons glo” en die koorgedeelte lui as volg:

En al sou berge ook begin wankel of val in die see

Hierdie waarheid staan vas, God self het dit gegee

En al verander ook die wêreld, God se woord gee nooit mee

Ons glo

Luister gerus daarna:

Miskien ken jy die mooi lied “I Believe”?

Ook daardie lirieke is betekenisvol. Ek haal enkele lyntjies aan:

I believe for every drop of rain that falls, a flower grows.

I believe that somewhere in the darkest night, a candle glows.

I believe for everyone who goes astray, someone will come to show the way.

I believe, I believe.

Ons is mense van geloof. Ten diepste glo ons dat God met ons op pad is; God Drie-enige, Vader, Seun en Heilige Gees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.