ToekomsVenster: Een liggaam, baie netwerke


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

1 Korintiërs 12:12-27 Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van die kerk.

Die kerkgebou is nooit ’n doel op sigself nie. Die kerk, en soos wat ons dit verstaan, is nie ’n gebou nie. Die kerk is mense wat op ’n bepaalde plek bymekaarkom. Normaalweg praat ons in die omgangstaal van “ons kom by die kerk bymekaar” en dan word daar die gebou bedoel waar gelowiges bymekaarkom.

Ons kan die bymekaarkom van kerkmense beskryf as die byeenkoms van verskillende groepe of mikrokulture (klein groepies mense wat dieselfde belangstellings het). Hierdie groepe of mikrokulture word dan deur middel van netwerke aan mekaar verbind. Die netwerke kan ’n persoon (dominee) of dieselfde doelwit (ons bedien die jeug) of projek (ons hou basaar), wees. Netwerke maak dit vir gelowiges moontlik om saam met ander gelowiges te luister na God se stem en saam te onderskei wat God wil hê hulle moet doen.

In die teks van môre lees ons hoe die liggaam mekaar nodig het. Die liggaam, die groep gelowiges, het die mikrokulture en netwerke nodig vir die bediening in die bepaalde konteks waar hulle is. Soos wat die liggaam nie kan funksioneer sonder die voet of hand nie, so het die kerk al die (mikro) kulture nodig om goed te kan funksioneer.

Die kerk is die versamelplek vir my en ander gelowiges, maar dis ook die wegspringplek of die afspringplek waarvandaan ek en ander in die wêreld in beweeg. Ons kom by die kerk bymekaar, luister saam na God se wil en dan gaan ons uit na die wêreld om dit wat ons gehoor het, te gaan doen.

Gebed:

O Heilige Gees, wat is my plek en rol in die liggaam van die kerk? Wys my waar het U my nodig en wat U van my vra. Amen.

Leefwyse:

Dit is so belangrik dat elke gemeentelid weet dat hy / sy saam met ander die liggaam vorm. As hulle nie daar is nie of wegbly van die byeenkoms van gelowiges, dan mis die liggaam daardie liggaamsdeel. Motiveer en bid vir medegelowiges om hulle plek in te neem in die liggaam.

Iets om vandag oor na te dink:

Die beeld help ons om te verstaan hoe belangrik verskillende mense vir verskillende take in die Koninkryk of kerk is. Mens dink altyd dat jy nie nodig is nie want jy is byvoorbeeld nie ’n arm nie, maar jy voel net soos ’n toon. Die liggaam mis die toon as die toon nie daar is nie.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.