ToekomsVenster: Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai

kruis-01

Foto: Samuel McGarrigle/Unsplash.com

Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?” Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” – Markus 14:17-21

Judas se verraad is veragterlik en onverskoonbaar. Hy het die Here in die rug gesteek en dit vir geld. Dat die geld nie vir hom vreugde gebring het nie is duidelik omdat hy later berou gekry het en die saak ongedaan wou maak. Die einde was selfdood.

Die skrifgeleerdes wat met hom die bose plan beraam en deurgevoer het hul hande in onskuld gewas. Judas moes self sien en kom klaar. “Jy is ʼn regte Judas” sê ons vandag en vir mense wat jou in die rug steek.

Dat Judas se optrede laakbaar is kan nie weg redeneer word nie. Dat dit alles deel was van ʼn groter plan is onverstaanbaar en misterieus. Op die einde het die verraad veroorsaak dat Jesus verhoor en gekruisig is. Dit was waarom Hy na die aarde gekom het naamlik om met sy lewe te betaal, ook vir Judas sou hy hom tot Jesus wend. Ongelukkig lees ons niks daarvan in die verhaal nie.

Verraad is ʼn baie lelike ding. Dis agteraf en boos. Ons moet egter ons harte ondersoek. Petrus het Jesus ook verraai deur drie keer teenoor ʼn diensmeisie te verklaar, ja selfs met gekruide woorde dat hy Jesus nie ken nie. In Petrus se geval was dit vrees, in Judas se geval geldsug.

In die fliek Silence word van die Jesuïtiese priesters verwag om Christus te verraai deur op ʼn afbeelding van Hom te trap. In ruil daarvoor word die lewens van honderde volgelinge van Jesus gespaar.

Dis ʼn bykans onmoontlike situasie. Dis skaakmat. Wat doen ʼn mens? In die fliek verraai die priesters die Here en vind ons hulle later waar hul as Buddiste sterf met ʼn kruisie in die hand.

En ek en jy? Is ons ook geneig om vir watter rede ook al God te verraai vir geld, bekendheid en roem, aanvaarding, die leuen van die duiwel of vrees…

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.