ToekomsVenster: Een wolskapie op ’n keer

Foto: Erik-Jan Leusink/Unsplash

 … wy julle aan die goeie dade waarvoor God julle bestem het. – Efes.2:10

Ondanks wonderlike reën waaroor ʼn mens kinderlik opgewonde is, is daar steeds boerdery gemeenskappe waar mens en dier in moeilike omstandighede spreekwoordelik kop bo water probeer hou, net dat die water nie daar is nie. So lees ek van die Sutherland-gemeenskap en hoe oorlewingsdrang hulle motiveer om allerlei projekte van stapel te stuur ten einde die broodnodige gelde te genereer en veevoer aan te koop.

Die eens 400 000 sterk skaapwêreld het nou tot 60 000 ingekrimp maar die vee moet aan die lewe gehou word. So het die  projek “save the sheep” tot stand gekom. Ek dink dit is ʼn eerste in die wêreld.

Een van “save the sheep” se harde werkers is ouma Magriet Serdyn van die plaas Weltevrede, buite Riebeeck-Wes in die Swartland. Sy hekel wolskapies en neem die taak baie ernstig op. In haar eie woorde het die Here vir haar twee hande gegee, sy praat van “handige hande” waarmee sy ook boerseep maak en “serpies” brei. Soggens drie uur is sy uit die vere en sestien uur later is nog ʼn wolskapie klaar.

Ons is somtyds doodgewoon lui en onwillig om hand uit die mou te steek. Wie het gesê “die Here help die wat hulself help”? Ons moet dalk ernstig nadink oor die verskonings wat ons aanbied waarom ons omgewing stelselmatig veragter terwyl ons met ʼn bietjie innovasie die lewensgehalte van baie kan verbeter.

So lees ek van gemeenskappe wat met dapper en stapper begin het om paaie te restoureer, sypaadjies skoon te maak, onaantreklike, seeroog geboue te verf, groentetuine te kweek. Hulle bemagtig ander om ook betrokke te raak en skep ʼn gevoel van trotse deelname terwille van ʼn gesonde gemeenskap.

Ouma Magriet is 79 jaar oud. Haar eggenoot oom Nicol, self 82, staan nie agter nie.

Ek vermoed die deursnee luisteraar en leser is veel jonger.

Kom ons aanvaar die uitdaging en hou die skapies in ons omgewing aan die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.