ToekomsVenster: Wees eengesind

(Foto: Luke Leung/Unsplash)

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! – 2 Kor.13:11

Hoe lieflik is dit as broers saamwoon, getuig die Psalmdigter. Dit is soos olie wat van Aaron se hoof oor sy baard tot op die grond drup. Olie getuig van seën en vrede. Die Shalom Jahwe. (Ps.133:2)

Om altyd in ’n ander rigting te trek net omdat jy moedswillig is en wil wees, is darem onverkwiklik. Mens kry sulke mense. Hulle is altyd stroomop.

Toegegee, daar is tye waar jy soos ’n Luther moet sê, “hier staan ek, ek kan nie anders nie”.

Selfs al staan jy heeltemal alleen doen jy dit omdat jy getrou moet wees aan jouself, jou roeping en jou oortuiging. Die geskiedenis getuig van sulke mense wat die applous van mense van minder belang geag het as geloofwaardigheid en integriteit. Gelowiges moet ’n ruggraat hê. Niemand het respek vir ’n jabroer nie.

Dan weer is dit nie ’n lisensie vir summier moeilik wees nie. Stroomop, soos ons reeds gesê het.

Eensgesindheid is ’n pragtige en navolgenswaardige doelwit. Dit is om mekaar as kollegas, medegelowiges, broers en susters, kinders van die Vader, te omarm en te aanvaar. Om by mekaar aan te sluit en mekaar te ondersteun, mekaar te bemoedig en te onderskraag, mekaar se belange op die voorgrond te stel en mekaar te dien.

Jesus het aan die vooraand van sy Hemelvaart gebid vir die eenheid van en onder sy kinders. Hy verwys selfs na mense wat nie tradisioneel deel van die bekende kring is nie, maar wat eweneens in Hom glo. Skape van ’n ander kraal, staan daar.

Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. – Johannes 10:16

Jesus bid dat hulle, ons, soos Hy en die Vader, een sal wees.

Eendrag maak mag, sê die bekende spreekwoord en dit is waar. Kinders van die Here kan mekaar so geniepsig hanteer. Sosiale media is daarvan ’n voorbeeld. Mens sal nie sê dat ons almal aan die einde van die dag God dank vir sy genade nie.

Dieselfde Here, dieselfde genade, dieselfde beker en brood verwysend na die nagmaal en die offer wat Jesus gebring het.

Maak eenheid ’n prioriteit.

Mag wees dat daar mense is met wie jy nie een kan wees nie. Daaroor moet jy in die lig van God se Woord self besluit. Maar beywer jou vir die eenheid van God se kinders in hierdie wêreld.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.