ToekomsVenster: Eerlikheid, ʼn kernwaarde vir ons tyd


eerlikheid

Foto: Wonderingfair.com

Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose. – Lees Matteus 5:37

Jesus wil hê dat jou Christen-integriteit eenvoudig ‘n geval van ja of nee sal wees, en dat jy dit bedoel.

Integriteit het met ‘n klomp sake te doen.  Dink van die afspraak wat gemaak word vir ‘n sekere tyd of die besoek wat belowe word of om betyds by die werk op te daag en om nie te vroeg te loop nie?  Wat van die belofte wat jy aan jou kind gemaak het om sy wedstryd by te woon? Wat van die beloftes wat jy voor die Here gemaak het oor jou huwelik en oor jou kind se doop?

In ons land sukkel ons tans met sistemiese korrupsie.  Dit wys dat daar ‘n massiewe probleem is rondom eerlikheid oor ons hantering van geld.

Ons sal doelgerig ‘n weg hieruit moet vind deur die volgende dissiplines te vestig:

  • Eerlikheid in verdienste: Vertel die waarheid en moenie steel en bedrieg nie. Werk vir jou geld.  Jy word beloon vir harde werk. Werk asof vir die Here en nie vir mense nie.  Werkgewers is ook verantwoording aan God verskuldig oor die manier wat hulle hul werknemers behandel en besoldig.  Die arbeider is geregtig op sy loon.  Gelowiges behoort hierin ‘n voorbeeld te stel en nie te kyk hoe min ons mense kan betaal ter verryking van onsself nie.
  • Verantwoordelike besteding: Ons moet waak teen materialisme wat veroorsaak dat ons meer bestee as wat ons kan bekostig. Dit is belangrik om ‘n begroting op te stel sodat jy jou uitgawes kan beplan en monitor.  Bestee net wat jy kan bekostig.  Toets jou motiewe: Het ek dit regtig nodig, of wil ek dit net hê?
  • Wysheid met lenings: Vra jouself af of jy sonder skuld kan lewe?  Wees op jou hoede dat jy nie verslaaf word aan skuld nie.  Daar is ‘n onderskeid tussen goeie skuld en slegte skuldGoeie skuld is wanneer jy geld leen op ‘n verantwoordelike wyse (jy begroot om dit te kan terugbetaal) vir iets wat lang-termyn waarde het, bv studies, ‘n huis of motor.  Daarteenoor is slegte skuld die verpligting wat jy aangaan vir iets wat jy nie regtig nodig het nie (luukses) of iets waarvoor jy kontant kon betaal.  Bly weg van kitsuitleenskemas met hoë rentekoerse en vermy kredietkaartskuld.
  • Selfbeheersing en besparing: Selfbeheersing beteken om beheer te hê oor jou emosies en optrede.  Om te spaar beteken om genoeg vir môre te bêre.  Dit beteken dat jy minder vandag bestee sodat jy reserwes het vir die toekoms.  Armoede en werkloosheid skep wel groot uitdagings rondom besparing.  Dus verg besparing beplanning.  Begin klein en laat jou beleggings groei.  As gelowiges het ons ook die verantwoordelikheid om te spaar sodat ons vir ander wat behoeftig is, tot ‘n seën kan wees. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Joh 3:17)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

neelsie ·

Dankie vir die kernwaarde.
Leef in volle afhanklikheid van God.
Gee elke deel daarvan vir Jesus.
Jesus-groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.