
Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)
“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” – Romeine 15:7 (AFR83)
Ek het die voorreg gehad om die Standard Bank Jazz-musiekfees by te woon. Alhoewel dit oor twee aande aangebied is, het die een aand wat ek dit kon bywoon, my in vervoering gehad.
Jazz-musiek is nie almal se koppie tee nie, trouens, dit geld vir alle musiekgenres.
Sommige mense is gaande oor boeremusiek, terwyl ander die konsertina en banjo nie kan verdra nie.
Sommige kan ure lank na klassieke klanke luister, terwyl ander die radio summier sal afskakel.
Interessant hoe ons van mekaar verskil.
As ons oor alles saamgestem het, sou die wêreld ʼn vervelige plek gewees het.
Jongmense se musieksmaak verskil somtyds dramaties van die van die ouer garde. Tog is dit interessant dat soveel jongmense eg Afrikaanse liedjies waardeer, die woorde kan nasing en mekaar entoesiasties op die dansbaan kan begelei.
Musiek is ʼn wonderlike gawe en daar is inderdaad iets vir elkeen.
Ek was ʼn onderwyser vir vier jaar van my lewe, voordat ek in voltydse bediening (nie dat onderwys enigiets anders is nie) geland het. Eendag het een onderwyseres vir haar klas wat mekaar in die hare gevlieg het, gesê: “Daar is genoeg plek onder God se son vir ons almal”.
Inderdaad.
Net soos ons musieksmaak van mekaar verskil en niemand daarmee ʼn probleem het nie, so verskil ons van mekaar op vele terreine van die lewe. Ons is nie almal dieselfde nie en hoef dit nie te wees nie. Die verskeidenheid maak ons juis besonder interessant en aantreklik vir mekaar.
Teenoorgesteldes trek mekaar aan, word gesê. Die huwelik is daarvan dikwels ʼn voorbeeld.
Tog gebeur dit juis daar dat man en vrou mekaar begin irriteer omdat hulle skielik agterkom dat hulle verskil.
Ai, mense is darem onvoorspelbaar.
Die hele relaas om soos die Bybel van ons verwag mekaar te aanvaar, respekteer en te waardeer. Die Bybel leer ons immers dat die Liggaam baie lede het, maar dat hulle onderling aan mekaar verbind is.
Ek hou van jazz en jy van klassiek.
Tog het ons mekaar lief.
Ek aanvaar jou met die liefde van ons Heer.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
Interessante stukkie ds Jannie.Musiek het ‘n saambindende faktor soos min,veral vir mense wat van dieselfde musiek hou.My musiek smaak het ontwikkel hier in die vroeë sewentigs,en luister dit tot vandag toe.