ToekomsVenster: ‘Ek is die lig’

ligtoring

(Foto: Pixabay)

Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” –  Johannes 8:12

Ons is bederf want ons neem elektriese lig sommer net as vanselfsprekend. Jy loop doodgewoon by die skakelaar verby die druk dit sonder om eers daaroor na te dink.

Toegegee, gegewe die uitdagings wat ons elektrisiteitsvoorsiener het om volhoubaar in die energie behoeftes van Suid Afrika te voorsien, moet ons meermale verlief neem dat die skakelaar nie op ons aandrang reageer nie. Ongeag hoeveel keer jy dit aan en afskakel daar gebeur absoluut niks.

Lig het betekenis wanneer dit donker is. Niemand skakel ligte aan wanneer die son helder skyn nie. Dan raak die lig weg en is daar net ʼn effense gloed in die gloeilamp maar dit lewer geen betekenisvolle bydrae nie.

Om dus die ligskakelaar aan te skakel om twaalfuur die middag, tensy donker donderwolke skielik begin saampak het, maak net geen sin nie.

Die Evangelie, die woorde van Jesus, is soos lig in die donker. Ons is geestelik gesproke in donker vasgevang. Tensy die Heilige Gees dit aan ons openbaar neem ons doodgewoon aan dat dit is hoe dit moet wees. Dit is eers wanneer die lig van die Woord aangeskakel word dat ons agterkom presies hoe donker dit in ons lewens was.

Dan begeer niemand om terug te gaan na die donker nie tensy die donker ʼn  veilige hawe is waar jy kan wegkruip soos Adam en Eva gedoen het. Skielik was hulle bewus van die donker en het gevrees dat God se lig daarop moet skyn. Ook hulle moes leer dat ʼn  mens nie van die lig kan ontsnap nie.

Die lig spoor jou en jou diepste geheime op en openbaar dit vir wat dit is.

Dit hoef egter nie bedreigend te wees nie maar bevrydend. Die donker verteenwoordig slawerny, uiteindelik die dood. Wie daarin bly voortlewe gaan verlore. Die lig het egter gekom om die duisternis te verdryf. Johannes getuig daarvan dat die wêreld die lig nie kon akkommodeer nie, juis omdat dit die donker aan die kaak gestel het.

Ons is egter nie van die duisternis nie. Die Son van geregtigheid het in ons harte opgekom en lig gebring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.