ToekomsVenster: Ek is ’n gas by God se tafel

(Foto: Tim Cooper/Unsplash)

Jesaja 25:6-7 – Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was.

Ek wonder aan watter Skrifgedeelte of gedeeltes laat hierdie vers jou dink. Ek hoor die taal van Ps. 23. Die Here berei ʼn feesmaal voor vir sy gunsgenote. Hy dek die tafel in die teenwoordigheid van my teëstanders, lui die ou vertaling. Ja, my beker loop oor.

Daar is ʼn paar belangrike merkers in hierdie belofte vers.

Die berg van die Here verwys na sy woonplek. Sion is op ʼn berg, die tempel wat die teenwoordigheid van die Here versimboliseer. Gode woon op die hoë berge in die verstaan van oosterse mense van daardie tyd.

Ons God is die Lewende, die Een wat sy woonplek nuwe Testamentiese maak in die harte van sy kinders, ʼn tempel wat nie met mense hande gekonstrueer is nie maar deur die Gees tot stand gebring is en word. Saam word gelowiges opgebou tot ʼn geestelike huis waarin God woon leer Efes. 2 ons.

Die volkere wêreld is uitgenooi na die feesgeleentheid. Sommige sou eerder wou sien dat die volkere wêreld konsekwent die voorwerp van God se toorn is. Dit is natuurlik ver van die waarheid verwyder. Van die begin af, ja, voor die grondligging van die aarde het God mense uit alle tale, volke, kulture en kontekste in Christus Jesus uitverkies tot die lewe, alles en almal onder een Hoof, Jesus Christus verenig.

Ons as nuwe Testamentiese kerk mag die volkere wêreld nie faal nie. Ons roeping is om hulle uit te nooi na die bruilofsmaal van die Lam. Die oorvloed van God se genade word in aptytwekkende beeldspraak bekend gemaak. Jy kan die tafels sien en hoor  kreun onder die heerlike geregte wat God voorberei het terwyl sy kinders singend naderstaan met “vir spys en drank, sê ons U dank, ons loof U Naam, o Heer”.

Die doek word verwyder. Moses het ook so ʼn doek gedra toe hy van die berg van verheerliking afkom. In sy geval het die doek die volk beskerm omdat die heerlikheid op sy gesig geskyn het. Hier egter is die doek die versluiering wat die bose en die wêreld en mense se filosofieë oor die hart trek en wat maak dat hulle die genade van God nie na waarde kan skat nie. God verwyder die versluiering, die Gees interpreteer die Woord binne die verstaanshorisonne van elkeen se konteks en versamel hulle as deel van God se huisgesin.

Israel, ook die nuwe Testamentiese Israel se roeping staan vas.

Die middelmuur van skeiding is afgebreek, die vyandskap is opgehef, die volkere wêreld moet stelling inneem voor die troon van die Heilige.

Hul plek is voorberei. Elkeen wat dors het kom, kom na die water van die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae