ToekomsVenster: ‘Ek kom niks kort nie’

(Foto: Pixabay/Pexels)

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.”Psalm 23:1

Jy sou kon sê, dit is doodgewoon nie waar nie. Die digter sê: “Ek kom niks kort nie,” maar in en met my lewe skort daar baie. My omstandighede is ver van ideaal en ek is reeds so moedeloos dat ek nie weet hoe ek die volgende dag in die oë gaan kyk nie. Hoe moet ek dit dan hierdie vers verstaan?

Onthou, ek het gister reeds daarna verwys dat die konteks waarbinne hierdie Psalm beslag kry, waarskynlik minder ideaal is.

Dawid se lewe was dikwels in gevaar. Dit blyk nou dat dit ook hier die geval is. Dit is juis te midde van minder ideale omstandighede dat Dawid hierdie belydenis uiter: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”.

So klaarblyklik is dit moontlik dat, te midde van minder goeie omstandighede, ʼn mens nog steeds van die sekerheid van die Here se teenwoordigheid, sorg en beskerming bewus kan wees.

Trouens, dit is die getuienis van baie Psalms in die Bybel. Dit maak die Psalms juis toeganklik vir gewone mense. In die Psalms ontmoet jy mense wat ongemaklikhede beleef het. Jy ontmoet mense wat somtyds erg getwyfel het aan die teenwoordigheid, sorg en omgee van God.

In Psalm 73, byvoorbeeld, vra die skrywer juis hoe dit moontlik is dat die kinders van die Here so swaar kry terwyl die vyande van God oënskynlik ʼn goeie lewe geniet.

Dit is opmerklik dat baie Psalms aanvanklik uitdrukking gee aan die ongemak, hartseer, teleurstelling en worsteling van die digter. Die teenwoordigheid van God word in twyfel getrek.

Waar is Hy dan as dit moeilik gaan?

Maar dit is juis te midde van hierdie geloofsworsteling dat die Psalmdigter herinner word aan die getrouheid en grootheid van God.

Hy dink aan hoe die Here in sy, maar ook in die lewe van die verbondsvolk, op ʼn besondere wyse opgetree het. Dit gee nuwe moed en krag om ook sy eie uitdagings in die oë te kyk. Geen wonder dat baie van die Psalms wat aanvanklik op ʼn negatiewe noot begin, uiteindelik in ʼn lofverheffing eindig nie.

Die Bybel belowe nie vir ons ʼn moeitevrye lewe nie. Wie dit uit die Bybel uit aflei, lees doodgewoon nie die volle verhaal nie.

Ek hoef maar net na Paulus se lewe te verwys. Die opgawe van uitdagings wat hom te beurt geval het, gaan die verstand te bowe. Hy bevind hom juis in die gevangenis in Rome wanneer het die boek Filippense skrywe. Die ondertoon van vreugde en blydskap in daardie boek is bekend.

Petrus en Silas sing lofliedere terwyl hulle hulleself in die gevangenis bevind. Habakuk getuig daarvan dat hy te midde van moeilike omstandighede steeds die Here sal loof en prys.

Dit is juis die positiewe geloofsbelydenis van mense wat nood beleef wat my dikwels aanspreek. Jy verwag dat mense negatief en moedeloos sal wees en praat en tog, te midde van minder goeie omstandighede, bly hulle getuig van die goedheid van die Here.

Vir hulle het hierdie woorde inderdaad betekenis:

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Mag jy vandag, te midde van persoonlike omstandighede, die teenwoordigheid van die Here beleef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.