ToekomsVenster: ‘Ek stuur julle’

(Foto: Faran Raufi/Unsplash)

“Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe.” − Lukas 10:3 (AFR53)

Die kerk sonder die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, is niks. Die kerk sonder Goddelike liefde, is niks. Die kerk sonder haar mense is eweneens niks.

In die afgelope tyd het kerkvergaderinge aandag gegee aan die vraag of “aanlyn kerk” steeds as ʼn erediens verstaan kan word. Daar is besluit om die saak te verwys en later daaroor ʼn besluit te neem.

Kerke het hul prosedures en dit moet gerespekteer word. Of soveel tyd geneem moet word om by klarigheid uit te kom is ʼn ope vraag, veral in die lig van dringende sake wat op die agenda van die vergadering behoort te wees.

Ongeag wie die kerk is en watter denominasie verteenwoordig word, is dit van kardinale belang dat die kerk hul besig hou met die dinge wat die lewens van gelowiges intens raak.

Ons leef te midde van hopeloosheid en ongekende woede. Suid-Afrikaners is ontwrig, kwaad gefrustreerd en somber. Die konteks waarbinne ons onsself bevind is toksies en selfs lewensbedreigend.

In my eie omgewing is ʼn paar minute terug gepoog om ʼn wa met die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se uitbetalings te kaap. Honderde skote is afgevuur.

Ek was juis op pad na die poskantoor om ʼn posstuk te versend. Poskantore wat nog funksioneer het byna net so skaars soos hoendertande geword.

Wie weet wat kon gebeur het as ek ʼn paar minute vroeër in die omgewing was.

Dit is ons wêreld; dis onvriendelik en gevaarlik.

In so ʼn wêreld word Christene geroep om sout en lig te wees. Die geleenthede is daar, immers Jesus het self in ʼn donker tyd in die volk Israel se geskiedenis na die aarde gekom. Lig skyn op sy helderste wanneer die stikdonker is. Ons mag nie moedeloos in ʼn hopie gaan sit en spreekwoordelik handdoek ingooi nie, immers, ons het die Gees van God wat in ons woon.

Ek wonder wat op die agenda van gemeentes staan?

Elke vergadering verteenwoordig tyd en geld, energie en potensiaal.

Sonder om die een te los, kan die kerk ten minste net soveel aandag gee aan die ander knelpunte in ons samelewing.

Die kerk sonder ʼn relevante getuienis, is eweneens niks. Heeltemal niks.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.