ToekomsVenster: Ek verlang na my ma

oupa-ouma-kleinkinders

(Foto: Pixabay/Pexels)

“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” – Eksodus 20:12 (AFR83)

My ma was nie ʼn volmaakte mens nie, my pa ook nie. Hulle het hul foute gehad, nie altyd reg opgetree nie, dalk selfs bygedra tot ʼn paar skete wat ek emosioneel opgedoen het.

Tog was hulle my ma en pa. Hulle het na die beste van hul vermoë gesorg en dit dikwels deur hul eie belange op die altaar te plaas.

Ons was vier kinders en die lewe was moeilik. Later het my pa van beroep verwissel en dit het ietwat beter gegaan. Dit was steeds nie maklik nie en met moeite het hulle ons deur universiteit gesit, soos dit in die volksmond gesê word.

Ek het, nadat ek aanvanklik ouditeur wou word, ná my bekeringservaring my vir die bediening begin voorberei. My sus het onderwyseres geword. My twee broers was nog aan huis toe my pa op 46 oorlede is.

So gaan ons verhaal en ek wil jou nie met die besonderhede bemoei nie.

Ek verlang na my ma en pa. Ek is self al ʼn oupa en besef dat mense een of ander tyd tot sterwe kom.

My ma was 76 toe sy aan kanker dood is. Haar laaste woorde aan my was: “Janna, ek gaan tot die einde leef,” en sy het ook.

Ek sou haar skakel en voordat sy my kon teregwys omdat ek nie genoeg bel nie, vra waar sy is wanneer ek skakel (wat ek nie gedoen het nie). Die bedoeling was om haar onkant te vang en dit het elke keer gewerk. Ek hoor haar stem: “Janna, Ellastraat 580, room number one”.

Waar is jou ma en pa?

Leef hulle nog?

Wanneer laas het jy kontak gemaak?

Hoe gaan dit met hulle?

Het hulle genoeg om van te leef?

Is jou ereskuld teenoor jou ouers vereffen?

Onthou, jy sal ook oud word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.