ToekomsVenster: ‘Ek weet aan wie ek my toevertrou’

blom-sonsondergang-plaas-eyecandydesighz.jpg

(Foto: Eyecandydesighz/Pixabay)

“Daarom, omdat ons ʼn onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” – Hebreërs 12:28 (AFR53)

Dankbaarheid is ʼn verkwiklike vrug van die Heilige Gees se werk in die lewe van ʼn gelowige. In hierdie gedeelte word ʼn aantal sake met mekaar en met dankbaarheid in verband gebring.

Die eerste gedagtes het met die aard en volhoubaarheid van die Koninkryk van God te doen.

Ons leef in ʼn wêreld waar niks seker is nie. Wie vandag die toon aangee, is môre nie meer ʼn faktor nie. Mense, selfs in invloedryke posisies, word gemaklik vervang. Ander sterf en iemand anders moet oorneem. Sy manier van dink en doen mag dramaties verskil van die van sy voorganger.

Leiers tree aan en uit. Samelewingsverbande word herrangskik. Die kabinet word geskommel as ʼn eietydse voorbeeld. Boris Johnson moet sy posisie as leier prysgee na sy middernagtelike partytjies tydens die pandemie. Sy opvolger hou enkele ure.

Koninkryke kom en gaan. Dit is net God se Koninkryk wat nie aan enige skommeling onderworpe is nie.

God is gevestig in sy onwankelbare, ewige, merkwaardige en prysenswaardige heerskappy. Hy is Koning vir altyd, op die troon.

Engele het gedurende die oergeskiedenis in opstand gekom en moes hul hemelse woonplek prysgee om vir ewig in duisternis geakkommodeer te word.

Die stabiliteit en sekuriteit wat ons in die drie-enige God het behoort ons tot oorvloedige dankbaarheid te stem. Maak nie saak wat gebeur nie, ek, ons wat glo, behoort aan Hom.

Niks en niemand kan ons uit sy Hand ruk nie. Vir tyd en ewigheid is ons veilig.

Die verwagte uitkoms van hierdie geloofsekerheid word in die teksvers aangestip. Benewens dankbaarheid, eerbied vir God en sy soewereine heerskappy.

Die onsekerheid wat aan die teenwoordige werklikheid kleef kan ʼn mens hewig ontstel. “Sê nou maar net” is iets waarmee ons almal bekend is. Daar is soveel ontstellende moontlikhede.

Suid-Afrika is tans nie op ʼn goeie plek nie, trouens, dit is waar van die hele wêreld. Dink maar aan die oorlog wat tans woed en hoe dit internasionaal kan uitspeel as iemand “kop” verloor.

Die aandgesang verwoord dit so mooi: “Ek weet aan wie ek my toevertrou het, al wissel dan ook dag by nag”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here my hele lewe moet getuig van dankbaarheid teenoor my Skepper en my Redder want U is GOD die Waarmaker van U Woord…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.