ToekomsVenster: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan’

Sonneblom_by_heuning_soet_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! – Jeremia 29:11

Kan daar benewens Johannes 3:16  ʼn meer bekende vers in die Bybel wees as juis hierdie een? Kom ons kyk na ʼn paar vertalings sodat ons die volle omvang van hierdie merkwaardige seënbede kan verstaan:

Uit die NLV-vertaling: Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. En uit die Boodskap-vertaling: Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.

 

In ʼn wêreld wat deur onsekerheid gekenmerk word, is dit wonderlik dat Iemand alles weet en niks ontsnap sy aandag nie. Hy weet ook wat vir ons goed en reg is. As Verbondsgod begeer Hy dan juis die beste vir ons lewens.

Wat die teks interessant maak is dat die Here se volk, die Verbondsvolk, op hierdie stadium in ballingskap verkeer. Hulle is boonop daar vanweë hul volgehoue ongehoorsaamheid, die waarskuwings van verskeie profete ten spyt. Jeremia bring hierdie woord om die ballinge wat hul liere aan die bome opgehang het omdat hulle treurliedere sing. Hy wil dat hulle moed skep by die gedagte dat die Here nie met hulle opgegee het nie.

Dit is veral in tye van onsekerheid dat hierdie vers troos en versterking bring.

Somtyds kyk ʼn mens met dankbaarheid terug en verklaar: “Inderdaad Here, dit is net soos U belowe het”.

Ander kere bly dit ʼn rigtingwyser, dinge werk nie noodwendig nou uit nie maar die Here het belowe en Hy gaan nie op sy beloftes terug nie.

Neem kennis van God se bedoeling vir ons lewens: “voorspoed, toekoms en verwagting”.

Ek wonder watter sinonieme jy met hierdie begrippe in verband bring.

Dit is opmerklik dat voorspoed gekwalifiseer word, “nie teëspoed nie,” staan daar.

Somtyds tel die som van die lewe nie op nie. Somtyds wonder jy of jy dalk verkeerd verstaan het.

Uiteraard kan  ʼn mens hierdie belofte nie summier lukraak toeëien terwyl jy andersins nie in ʼn lewende verhouding met Hom staan nie.

Toegegee, die Here is groter as ons ontrou en onwilligheid en kan ons net omdat Hy so genadig is tegemoet tree.

Wie egter konsekwent onverskillig lewe, loop God se bedoeling mis.

Miskien wil jy juis hierdie vers aan hierdie jaar vasmaak.

Sou jy dit glo, sal jy ook erns maak met jou verhouding met Hom, nie waar nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir elke belofte in U Woord, laat U Naam geheilg word…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.