ToekomsVenster: Elke asemteug, tree ’n genade

Argieffoto (Foto: Rose Erkul/Unsplash)

Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend. – 2 Kor. 3:4-6

Opregte nederigheid is om te erken en te weet dat jy in jouself tot absoluut niks betekenisvol in staat is nie. Trouens, elke asemteug is omdat God dit vir jou gun, elke tree is genade.

Om jou afhanklikheid in en vir alles van die Vader te erken, en dankbaar daarvoor te lewe, is ʼn teken van geestelike volwassenheid.

Dit is my voorreg om as leraar die Evangelie op ʼn gereelde basis te bedien. Somtyds betuig mense waardering waarvoor ʼn mens uiteraard dankbaar is. Almal het aanmoediging nodig en dit is nie verkeerd om dit met grasie te omarm nie.

Die feit van die saak is dat dit wat jy met mense deel aan jou geskenk en toevertrou word. Die Woord is aan ons gegee. Die genade om dit kontekstueel te verklank is genade.

Niks is uit onsself nie.

God is alles, die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega en alles daar tussen in.

Paulus gaan voort om sy apostelskap te verdedig en in konteks te plaas. Hy gee die eer aan die Here. Wie die Woord wat hy bring willens en wetens verwerp die Een wat die opdrag gegee het.

Christus is die inhoud van die prediking. As mense in geloof op die boodskap reageer, is dit omdat die Gees hulle ontvanklik gemaak het. Dit is nie die prediker, in hierdie geval Paulus se skerpsinnigheid, spitsvondigheid of oratoriese vermoëns nie.

In die volgende verse werk Paulus die inhoud van die “nuwe verbond” verder uit. Wat ʼn voorreg om Boodskapper van God se bevrydende en herskeppende genade te wees. Die inhoud van prediking is goeie nuus.

As die boodskap mense kontinu ontmoedig, negatief en moedeloos laat, is dit nie die Evangelie van Jesus van Nasaret nie.

Toegegee, somtyds maak die boodskap ons hartseer juis omdat ons met ons eie stompsinnigheid gekonfronteer word.

Die genade en vergifnis van God moet egter helder en duidelik verkondig word.

Mense moet die erediens toegerus en bemoedig verlaat.

Alles, alles is genade. Onverdiende guns alleen. Dit is ook van jou waar. Dank die Here daarvoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.