ToekomsVenster: En as jou broer sondig


drukkie-kyk-goed-na-ander

Argieffoto.

As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. – Matt 18:15

In 1957 skryf wyle Prof Willie Jonker ’n boek met die titel, ‘En as jou broeder sondig.’ In 1977 word hierdie boek weer byna onveranderd uitgegee omdat dit soveel waarde gehad het. In hierdie boek verwys hy na een van die moeilikste dinge in die kerklike lewe. Ons noem dit kerklike tug.

Miskien het jy nog nooit daarvan gehoor nie, want dit word nie meer veel genoem nie. Of miskien was jy ’n slagoffer van ’n liefdelose, veroordelende optrede toe jy dalk swanger geword het voor jy getroud is of deur ’n egskeiding gegaan het. Ek noem hierdie voorbeelde, omdat dit min of meer die enigste sondes was wat optrede tot gevolg gehad het. Niks het gebeur as mens gierig was (wat die Bybel afgodery noem), geskinder of mekaar se name deur die modder gesleep het, die naam van die Here in die openbaar misbruik het, skelm was in besigheidstransaksies of beloftes voor God gemaak het net om dit te verbreek nie. Dink aan die talle onbetrokke lidmate in gemeentes wat die kerk net vir begrafnisse, troues of doop gebruik. O, die sewende gebod was die sonde van alle sondes!

Willie Jonker skryf dat Jesus geweet het dat verloste mense ook sondaars is. Hy het geweet dat alle mense nie altyd in Hom sou bly nie. Daarom sou hulle soms sondig en mekaar groot pyn aandoen. Ons is op ’n reis saam met God en mekaar. Hy skryf: ‘Die voltooiing van God se werk in lidmate van die kerk gaan die weg van ’n langsame groeiproses waarin die Heilige Gees daagliks pleit, arbei, troos, vermaan, bestraf en beweeg tot voller oorgawe aan Christus.’

In Matt 18 beskryf Jesus een van die maniere waarop die Heilige Gees met ons werk. Hy doen dit deur ’n broer of suster wat reguit met ons kom praat oor iets in ons lewe wat nie reg is nie. Hierdie broer of suster praat nie eers met ander mense daaroor en dan met ons nie. Dis baie persoonlik. Dis ’n private gesprek.

Die doel van die gesprek is nie om ons te vervreem nie. Die doel is om ons te laat omdraai. Die doel is liefde. Net voor hierdie verse praat Jesus van die een skaap wat weggeraak het: ‘Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie? En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie’ (18:12,13).

Dis die gesindheid! Ons is mekaar se wagters omdat ons besorg is oor iemand. Ons gebruik nie die Bybel as ’n stok om iemand te slaan nie, maar as ’n staf om mense terug na die Herder toe te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.