ToekomsVenster: En vergewe ons soos

Vergifnis

Argieffoto.

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. – Matt. 5:23-24

Verlede week se koerant het berigte oor ʼn vriendskap wat twintig jaar gelede skade gely het. Presies wat aanleiding gegee het tot die vervreemding is nie vir my duidelik nie maar dit hou verband met die bekende eertydse krieketspeler Hansie Cronjé en wedstrydknoeiery. Hansie is lankal by die Here en die oortreding lank reeds vergete. ( Wie sonder sonde is kan maar die eerste klip gooi het Jesus gesê toe die owerspelige vrou voor Hom gebring is).

Johannes 8:7 – Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.”

Hansie se bejaarde vader Ewie (80)  is baie siek en verswak. Dr. Ali Bacher, bekende in krieketkringe, het gedurende hierdie tyd van inperking nagedink oor die lewe (volgens die berig) en is herinner aan hierdie verhouding wat skade gely het. Hy het die aangewese ding gedoen en die familie geskakel en telefonies met die verlede afgehandel. Daarvoor het ʼn mens die grootste waardering.

Sonder om die spesifieke insident te misbruik wonder ek net waarom ons toelaat dat vervreemding van mekaar teen die agtergrond van die kortstondigheid van die lewe enersyds en, nog meer belangrik, Jesus se opdrag dat ʼn offergawe by die altaar gelaat moet word en partye eers moet versoen en vergewe voordat die offer gebring word. Lees daarmee saam die Onse Vader gebed waarin vergifnis twee keer ter sprake is, een keer in die gebed self en ʼn tweede keer as ʼn tipe naskrif. (Matt. 6)

Die hartseer is dat die verlore jare van vervreemding nie ingehaal kan word nie. Tyd staan nie stil nie en wat verby is, is onherroeplik verby.

Is daar iemand met wie jy moet vrede maak? Doen dit voordat dit te laat is. Wees haastig om dinge uit te praat en tot ʼn vergelyk te kom. Oefen om gou jammer te sê.

Bring die offer en wees die minste, neem die inisiatief ongeag van hoe groot die onreg is wat teenoor jou gepleeg is. Onreg vind nie in ʼn vakuum plaas nie. Daar is partye by betrokke. Maak reg. Bel vandag nog terwyl ons nie mag rondry nie.

“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” – Matt. 6:14-15

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.