ToekomsVenster: Erken Hom

Foto: Juanita Badenhorst.

“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;” – Matt 6:9

Die teks val vreemd op die oor. Die teks is eintlik ʼn bevestiging en aankondiging van dit wat reeds vasstaan. God is heilig. Heilig impliseer dat Hy radikaal anders as mense is. Hy is die Skeppergod wat met woorde die heelal tot stand geroep het. Hy het gespreek en dit het gebeur.

Hy is verhewe en waardig om geprys te word. Hy alleen moet aanbid word. Hy is die oorsaak en die gevolg, die begin en die einde, die Alfa en die Omega, die Bewerker van alles wat mooi en goed en bewonderendwaardig is.

Ons respekteer Hom vir wie Hy is. Hy is heilig.

Die gebed is daarom ook ʼn profetiese aankondiging van die heil. Dit roep die aarde op om Hom te erken en te aanbid. Dit plaas alle ander gode in perspektief. Daar is geen God behalwe Hy nie.

Eks. 20 kom hier by ʼn mens op. “Ek is die Here God wat julle uit Egipte uit die slawehuis uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag geen afbeelding maak en dit aanbid nie”. Daar is geen substituut nie. HY het alleenreg op jou toewyding en lojaliteit.

Die lewende wesens in die hemel roep sonder ophou uit “heilig is die Lam”.

Die uitroepe word in Openbaring herhaal. Dit sal altyd aanhou. Dit sal nooit ophou nie. Heilig is die Lam.

Die Naam van God is karakterbeskrywend. God ís sy Naam. Sy Naam is heilig. Dit mag nie misbruik word soos die media onder andere dit so geredelik en sonder om na te dink aan die konsekwensie, misbruik nie.

Die wyse waarop laster gepleeg word, is niks minder as ʼn uitdrukking van die artistieke bankrotskap van draaiboekskrywers nie. Hul idees het opgeraak, nou word die Naam van die drie enige God gelaster terwille van effek. Ons mag ons nie daaraan skuldig maak nie.

“Die klein waarde wat ons aan gebed heg is ‘n bewys van die min tyd wat ons daaraan afstaan.” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

Waar jy ookal rondkrap op die TV, gesprekke met mense, boeke wat jy lees: “Oh my god”. En dan soms nog met nadruk ook.
Wat is dít met mense om God se heilige naam so te misbruik? Jy mag nie. Hierdie is die God van alle eeue. Hy is heilig. Laat óns dan heilig wees, want God is heilig.
Dít grief my tot in my diepste wese. Dit grief God ook.
Kom God, kom red U kinders. Laat U heerlikheid oor ons spoel. U is waardig om aanbid te word. Ek aanbid U en ek buig voor niemand anders nie. Ek buig voor niks anders nie. Net God. Altyd. Ewig.
Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.