ToekomsVenster: Feesviering by nuwe tafels

etenstafel

Foto: JamesDeMers/Pixabay.com

“Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal gereed maak vir al die volke, ’n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.” – Jesaja 25:6

God het ’n begeerte om nuwe tafels te skep – ’n feesmaal waar almal kan aansit, arm en ryk, om deel te neem aan God se nuwe gemeenskap. God se droom is van ’n feesmaal wat van onder af inbreek en die samelewing op sy kop keer.

Jesus het eenmaal ’n soortgelyke storie vertel. ’n Gasheer het ’n groot feesmaal gereël. Die aand van die maaltyd het die genooide gaste een na die ander verskonings uitgedink en nie opgedaag nie. Later het die gasheer “die armes en kreupeles en blindes en verlamdes” uit die stad se “strate en gangetjies” laat nooi om te kom feesvier (sien Lukas 14:15-24). Hulle het gekom!

Dink hieraan

Die feesviering by nuwe tafels is Jesus se droom. Dit is nie net ’n vrolike partytjie nie. Dit is ’n protes teen magte wat sekere mense van die tafel af wil weghou. Dit is ’n nuwe tafel. ’n Ander tafel. ’n Tafel waar mense van die strate en gangetjies af kom om fees te vier. Ek beter my vooroordeel laat staan, anders gaan ek ontuis voel by die nuwe tafel van Jesus.

Wie is aan die buitekant wat ingenooi moet word om te kom aansit by God se feesmaal? Hoe lyk God se feesmaal?

Gebed

Here, help ons om “ja” te sê wanneer U ons uitnooi na U feesmaal. Help ons om nuwe plekke te maak aan ons tafels; om nuwe tafels te skep as die ou tafels nie werk nie. Keer ons tafels om as dit moet. Word U die Gasheer! Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Die gedeelte se betekenis lê in die belofte van God aan Abraham dat in Hom al die nasies van die wêreld geseënd sal wees. Die bruilofsmaal is die uitnodiging aan die Israeliete wat nie reageer op die uitnodiging nie, Yashua nie aanvaar as Messias nie. Dit skep die wonderlike geleentheid aan die ander volke om deel te hê aan die verlossing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.