ToekomsVenster: Finansiële fases in die lewe

finansies-platsak-beursie-flickr-com

Argieffoto: Flickr.com.

Lees: Eksodus 5:6-13; Eksodus 16:13-21 en Spreuke 10:22

Die bogenoemde Skrifgedeeltes verwys na verskillende fases waar die volk van die Here hulself bevind het. Die eerste teks praat van die Egipte wat slaafskap voorhou. Gedurende hierdie fase het die volk hard gewerk om ander te verryk. Vandag is dit moontlik om in dieselfde finansiële fase te wees waar ek tog baie kan wys, maar eintlik behoort dit nie aan my nie. Hierdie fase word gekenmerk deur oorlewing.

Die tweede teks praat van die woestynfase in die lewe van God se volk. Alhoewel die volk van God skatryk die woestyn ingetrek het, het hulle in die woestyn van die hand na die mond geleef. Hulle moes tevrede wees met dieselfde klere en kos vir 40 jaar lank. Met min keuses kan ek nie tot seën van ander wees nie.

Die derde fase is die plek van oorvloed waar die seën van die Here ryk maak. Miskien kan ons sê dat hierdie fase vir God se volk Kanaän was. Alhoewel daar “reuse” in Kanaän was, was dit die plek waar die volk God se guns beleef het.

Raak prakties

As jy in Egipte vasgevang is, sal dit raadsaam wees om ’n rasionele besluit te neem om daaruit te kom. Skryf vir jou ’n finansiële doel en plan neer en begin om konstruktief daaraan te werk. Die woestynfase is ’n fase van net genoeg. Gedurende hierdie fase het die volk van God geleer wat dit is om gehoorsaam te wees. Die fase van meer as genoeg is die plek om tot seën van ander te wees. Ontwikkel jou oor om sensitief te wees vir God se stem om ander te seën.

Iets om oor na te dink

In watter finansiële fase bevind jy jouself tans? Is daar ’n rede hoekom jy daar beland het? As dit ’n negatiewe fase is, het jy ’n plan om daaruit te kom? Hoekom dink jy is daar ’n woestynfase in die lewe? Watter doel het so ’n fase in ’n mens se lewe en hoe kom jy daaruit? Watter verantwoordelikheid kom saam met die Kanaän fase?

Gebed

Baie dankie Here dat U Uself in alle fases openbaar. Help my asseblief om deur die moeilike fases te kom en help my ook om U nie te vergeet as ek myself in die fase van oorvloed bevind nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.