ToekomsVenster: Gaan maak vrede


Rus-en-vrede-deur-Reint-Dykema

Foto: Reint Dykema.

Ons neem afskeid van 2016 en oorweeg ʼn paar sake wat dalk in ons bagasie skuil. Kwaaivriendskap, onvergewensgesindheid, bitterheid en kwade gevoelens is goed wat dikwels op die weg van menswees voorkom.

Jy leef in kwaaivriendskap met mense en die jaar 2016 snel na sy einde.

Ons het reeds aangedui dat ons ons tassie wil leeg maak van sonde, rebellie en ongeloof. Ons wil dit leeg maak van onbenutte en verspeelde kanse. Maar ons wil die 2016-tassie ook leeg maak van onvergewensgesindheid en sake wat steeds tussen ons en ander mense staan.

Die Bybel praat van vrede. Die vrede moet deurslag gee. Ons moet in vrede met mekaar oor die weg kom.

En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. – Kolossense 3:15

Kan ek jou vra, is daar vrede in jou hart met betrekking tot jou verhouding met jou medemens, vrou, kinders, sosiale kring, werksomgewing?

Is daar mense teen wie jy dinge hou? In jou vlees en sondige aard sou jy ʼn saak kon uitmaak om opstandig te wees. Jy is verontreg en seergemaak.

God verwag egter dat ons in vrede sal lewe omdat Hy ons volkome vergewe het van ons vyandskap en opstand teen Hom.

Jesus is God se vredesending. Kerstyd het daarvan getuig. Nou wil die Here vrede in jou lewe bring. Gaan maak reg en vergewe. Bel, SMS, skryf, bring ʼn besoek of praat dalk selfs net in jou eie hart met die Here.

Oorweeg hierdie waarhede in die Here se Woord:

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” – Matteus 5:23-24

“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.” – Matteus 18:15

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.