ToekomsVenster: Gawe en opdrag


hande-in-gebed-02

Argieffoto.

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. – Ef 4:3

Daar is ’n paar eienskappe wat die kerk deur die eeue as die ware kerk onderskei het. Dit word reeds in die vierde eeu nC duidelik bely: ‘Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.’ Sien jy die eerste eienskap? Ons glo aan een kerk. Ja, ek weet dat ons baie kerke het. Dis nie wat die Here wou hê nie. Dis omdat ons met mekaar stry oor sekere punte van ons geloof. Dis hoekom ons ’n klomp denominasies het. Dis ons skuld, nie die Here se wens nie. Die Here weet dat ons steeds vol sonde is. Ons insig is beperk. Dis hoekom mense wegbreek, hardkoppig is en kerke stig sodat dit hulle opvattings kan pas. Elkeen glo dan dat hulle die naaste aan die waarheid is.

Paulus skryf aan mense wat duidelik nie altyd oor die weg gekom het nie. Grieke en Jode het verskillende kulturele gebruike en geloofsoortuigings gehad. Die Grieke het geglo dat die godsdienstige reëls van die Jode nie op hulle van toepassing was nie. Die Jode wou die Grieke soos hulle maak. Paulus skryf egter dat hierdie twee groepe deur die bloed en liggaam van Christus een gemaak is (Ef 2:11-22).

Dis ’n feit. Dis ’n gawe. Dis soos dit is. Die Gees het hierdie band van eenheid tussen hulle gesmee. Hulle verskille kan dit nie verander nie. Die eenheid is GEES-telik! Christene se kultuur kan dit nie verander nie. Hulle taal kan dit nie verander nie. Hulle ras kan dit nie verander nie: ‘Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon’ (4:4-6).

Dit beteken nie dat alles altyd goed sal gaan nie. Mense sal steeds van mekaar verskil. Die enigste manier waarop die verskille oorkom kan word is om hard te werk aan hierdie eenheid. Paulus sê: ‘Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde’ (4:2). Dis harde werk.

Eenheid is nie net ’n feit nie. Dis ’n opdrag! Hierdie opdrag is ten diepste om volgens die evangelie te lewe. Paulus skryf dit in soveel woorde in die eerste vers van hierdie hoofstuk: ‘Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het’ (4:1). Dan volg al die opdragte om die gawe van die eenheid wat die Gees aan ons geskenk het, ’n werklikheid te maak.

Eenheid is ’n gawe en opdrag. Dis hoe jou gemeente in die wêreld as die gemeente van Christus uitgeken sal word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joh. 3:16 ·

Dit lyk my die dagstukkies het ‘n wening geneem weg van die fokus op ons Here Jesus Christus na die idiologie gedrewe konsep van sigbare eenheid. Die dokument wat hierdie ideologie van absolute eenheid as ‘evangelie’ op die spits gedryf het was die Belhar belydenis. Hoekom erken die skrywer nie dat hulle direk uit Belhar die dagstukkies motiveer nie?

Joh. 3:16 ·

Belhar belydenis 1986 punt 2: ‘Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk… Ons glo … dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit ‘n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees maar terselfdertyd ‘n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word; dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo; dat geskeidenheid…tussen mense en mensegroepe sonde is…en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk mag hê nie, maar bestry moet word…’

Joh. 3:16 ·

Die laaste drie dagstukkies is almal gerig op die eenheids idiologie van Belhar en nie die Evangelie van Jesus Christus wat vir sondaars die volmaakte offer is voor God nie. Die skrywer maak ‘n uiters arrogante stelling: ‘Ons insig is beperk. Dis hoekom mense wegbreek, hardkoppig is en kerke stig sodat dit hulle opvattings kan pas.’ Wat die skrywer dus impliseer is dat net sy eie opvattings dan perfek reg is. Ek erken en besf daar is baie dwaling, maar ek is ook oortuig daar is nie een kerk sonder dwaling nie. Hoekom? WANT KERKE BESTAAN UIT BEGENADIGDE SONDAARS. Daar sal nie aan die kant van die hemel ‘n perfekte enkel eenheid in die algemene Christelike kerk kan wees nie. WANT DIE KANT VAN DIE HEMEL HET ONS ‘N SONDE STRYD. Daarom kom word Jesus Christus vir ons ‘n Mens aan die kant van sy hemel om ons juis dit te leer en vir ons sondes te sterf. Ons is klaar in Hom EEN deur ons geloof. Ons het nie eers ‘n kerlike eenheid nodig om verlos te word nie!

Joh. 3:16 ·

God in sy Drie-eenheid het self die verskeidenheid geskape. Om te argumenteer soos Belhar, dat verskeidenheid sonde is en net reg gestel kan word deur ‘n sigbare eenheid is ‘n weerspreking van die evangelie. Hoekom? Want Christus het gesterf vir die sondaar Jood en die sondaar Griek lank voor belhar alle verskille wou kom uitkanseleer. Ons is nie een eers deur natuurlikke verskille te ignoreer nie. Ons is een in geloof in die Een, Jesus Christus. Ons eenheid is ons geloof en nie die kunsmatige gelykstelling van alle individuele verskille nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.