ToekomsVenster: Gebed en die krag van God

Foto: Ben White/Unsplash

Efesiërs 1:18-21 – Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

Paulus is ʼn man van gebed. Ook hier soos vroeër in die week in die geval van die gemeente van Filippi bid hy vir die gemeente in Efese. Paulus is onbeskaamd lief vir sy mense. Die opoffering en ontberinge wat hy ervaar en ondergaan het sodat hy die gemeentes na behore kon bedien, is daarvan ʼn klinkklare bewys.

2 Kor. 11:25-28 –   Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,  drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring.Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.

Dat een mens dit alles kon verduur is bykans ondenkbaar, tog, onteenseglik waar.

Wat is dit wat vir Paulus deurgedra het?

Dieselfde krag waaraan hy die gemeente nou herinner. Hy bid dat die Efesiërs bewus mag word van hoe geweldig groot die krag is wat God uitoefen in mense wat in Hom glo. Dit sê hy is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy, die Vader, uitgeoefen het toe Hy Jesus uit die kloue van die dood gered het.

Hoe dikwels het ek en jy al gesê nou kan ek nie meer nie? Ek gooi handdoek in, die draai my rug op God en die roeping wat Hy op my lewe geplaas het. Die lewe is te moeilik, te uitdagend, ek kan dit nie doen nie.

In die lig van wat Paulus deurgemaak het staan ek beskaamd dat ek so min geloofsvertroue het. In die lig van wat God in Jesus gedoen het, kragtige werking van sy mag, sê die teks, het ek niks om oor te kla nie.

Die onmag lê nie aan God se kant nie, dit is veel eerder ek en jy wat nie weet of onthou wat ons in Christus Jesus het nie en ook nie daaruit lewe nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae