ToekomsVenster: Gebed en genesing

natuurlike-medisyne-olies-genesing

Foto: @christinhumephoto/Unsplash.com

As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. – Jakobus 5:14-16

Dié teksgedeelte sluit by een van die menslike ervarings waarmee ons almal bekend is aan, nl. Siek wees. Daar is seker bitter min indien enige mense wat hier lees wat nog nie siek was nie.

Siekte en genesing is ʼn onderwerp wat somtyds hewige reaksie uitlok.

Daar is diegene wat glo dat ʼn mens net moet bid en dat die Here die genesing sal skenk.

Ander is effe skrikkerig vir wat genoem word die “gebed van die geloof” en kwalifiseer die gebed met “as dit U wil is”. Dit verklaar dan sommer waarom die betrokke persoon vir wie gebid word nie gesond geword het nie.

Ander soek die fout, indien ʼn persoon nie genesing ontvang nie, by hom of by allerlei vloeke en dergelike dinge wat uit die voorgeslagte kom.
Ander maan dat as jy God vra vir genesing jy summier as ʼn teken van geloof alle medisyne moet weggooi. As jy voortgaan om dit in te neem is dit ʼn mosie van wantroue in God en verteenwoordig dit ongeloof.

Ander argumenteer weer dat geloofsgenesing of gebedsgenesing soos dit allerweë bekend staan, iets is wat met die ontstaan van die Christelike kerk gepaard gegaan het. Dit was net vir ʼn seisoen bedoel en God werk nie meer so in mense se lewens nie.

Soveel mense, bykans soveel teologie oor hierdie onderwerp.

Siekte en die genesing wat nodig is is ʼn misterie en iets wat ʼn mens nie volkome verstaan nie.

God ís goed en dit is ons vertrekpunt. Ons het vrymoedigheid om Hom met al ons nood te nader sonder vrees vir verwerping of iets dergeliks.
Jesus is vandag more en tot in alle ewigheid dieselfde en is doen steeds wonders. Baie mense getuig van merkwaardige aanraking van God deur sy Gees. Sommige het bepaalde belewenisse in dié verband.

Party gemeentes getuig van wondergenesings wat plaasvind. Ander verwys alle siekes na die geneesheer. Vir ons as vertrekpunt die gedagte dat alle gawes van die Here kom.

Uiteraard is daar niks mee fout te vind om ʼn geneesheer te raadpleeg nie. Lukas was so ʼn geneesheer en Paulus het Timoteus aanbeveel om ʼn bietjie wyn te drink vir sy herhaalde ongesteldhede. Paulus weer het oënskynlik nooit genesing gevind van wat hy as ʼn doring in die vlees beskryf nie.

Miskien is die veiligste om te sê dat elke gelowige moet handel met die lig wat hy het. Die teks is noemenswaardig en gee goeie leiding. Laat die ouderlinge vir jou bid en jou salf met olie. Die olie is tegelykertyd teken van die Heilige Gees asook medisyne.

Mens sou kon lees “bid vir die sieke en gee vir hom medisyne”.

Sou interessant wees om te hoor hoe jy hieroor dink.

“Om met mense oor God te praat ‘n goeie ding, maar dit is beter om met God te praat oor mense.” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrea ·

Ek moes in 2016 n groot operasie ondergaan waarvoor ek baie bang was . Ekt ook geweet dat daar nie násorg sou kon wees nie. Ek was dus nie seker daarvan dat die uitkoms n sukses sou wees nie. Ekt besluit om die Groot Geneesheer, wat tog alle geneeshere se hande sterk, te vra om my self te genees en my die operasie te laat vryspring. En Hy het! Dis twee en n half jaar later, en ek loop nog. Dankie Here dat U na bang mensekinders se vrese luister en gebede verhoor.

julius ·

Ek kan ook getuig van genesing wat ek afgesmeek het van God wat saamgeval het met operasies en behandeling. Die dokters is die instrumente van God om mense te genees. Die span wat op my en ander geopereer het het eers in gebed gegaan voor die narkose gedoen is en daarom was ek nie eers bang vir die operasie nie. Bid en glo.

Lena Jonk ·

Ek kan ook getuig wat God vir my gedoen het, dis n lang storie maar sal net in kort vertel. Kon nie meer aangaan, geen pyn net vreeslikste naarheid, hosp toe So aand, vele toetse vir vir 2 weke in hosp, uiteinde opperasie. Uitslag gewas van 3,2 kg oor ingewande versprei, verwyder, uitslag hele gewas kwaadaardig. Ek het God gevra om my te dra ek kan nou nie meer nie. Ek kon voel iets is onder my wat my dra, ek kan daardie gevoel nie aan iemand beskryf nie. Uiteinde geen behandeling na besoek aan onkoloog. Om hierdie rede sal geen mens my vertel dat ons nie n Genadige God het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.