ToekomsVenster: Gebou op die apostels en profete


rotse-by-die-see

Argieffoto.

Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. – Ef 2:20

Jesus sê in die laaste sinne van die Bergrede dat ons die regte fondamente moet hê. Hy sê dat burgers van die koninkryk op ’n rots bou. Hierdie rots is sy woorde. Mense wat sy woorde hoor en nie doen nie, is soos mense wat op sand bou. Wanneer storms kom, val die huis inmekaar. Mense wat op sy woorde bou het ’n stewige huis. Die fondamente kan nie geskud word nie.

Paulus praat in Ef 2:20 ook oor fondamente. Die fondament is weer die woorde van God – die apostels en profete. Die apostels kyk terug en die profete het vorentoe gekyk. Die apostels het Jesus geken en verkondig Hom. Die profete het vorentoe gekyk en Christus verwag.

Paulus se brief aan die Efesiërs word deur baie as die ‘kerkbrief’ gesien. Paulus maak nou duidelik dat die kerk van Jesus Christus, die gemeente wat Hy vir Hom gekies het, op die Woord van God gebou is. Hierdie woorde se sentrum is Jesus Christus. Hy is die hoeksteen. Hierdie hoeksteen is meer as die hoekstene wat ons op kerkgeboue sien. Hierdie steen het twee mure aanmekaar gehou. As dit uitgeruk sou word, sou die twee mure nie bly staan nie. Die Ou en Nuwe Testament word saamgebind deur Jesus Christus. Op ’n ander plek noem Paulus Jesus Christus sommer reguit die fondament (1 Kor 3:11).

Dit alles beteken dat geen gemeente kan bestaan as die verkondiging van Christus nie die sentrum is nie. Dis waaroor alles gaan. Die kerk is nie ’n sosiale klub wat rondom rituele of gewoontes of ’n gemeenskaplike belangstelling soos golf, krieket of rugby bymekaar kom nie. Ons is mense wat deur ons geloof in Jesus Christus aan mekaar gebind is. Die getuienis van die apostels en profete – sy Woord – verkondig oor en oor dat ons uit genade gered is. Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding is ons God se mense. Daarom skryf Paulus in dieselfde brief: ‘Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het’ (Ef 1:13).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.